Sewejarige sterf aan geelsug
2008-09-11
Lise Beyers
“’n ROOS is weer uit ons tuin gepluk,” was die woorde van skoolhoof Granville Isaacs ná die tragiese dood van een van Paulus Joubert Primêr se leerders. Die sewejarige Monique Davids is Vrydagmiddag dood, ’n maand nadat sy geelsug opgedoen het. Monique se ma, Audrey, het tussen die trane deur vertel hoe haar jongste kind ’n maand gelede begin olik voel het. “Ons het gedink dat sy net grieperig was, want sy het kouekoors gehad en kon nie kos inhou nie. Haar oë was ook baie rooi. “Toe sy nie gesond word nie, het ons vir haar na Paarl Hospitaal geneem en die dokters was onseker wat haar makeer. Ons het vermoed dat dit geelsug is, want sy het effens geel geword in die gesig.” So is Monique se bloed getrek vir toetse en toe die uitslag hiervan meer as ’n week later terugkom, is dit bevestig dat sy wel Hepatitis A opgedoen het, wat ’n ernstige vorm van geelsug is, en wat ook aansteeklik kan wees. “Toevallig het Monique skool toe gegaan op die dag wat my man, Joseph Pietersen, die resultate van die bloedtoets gaan haal het. “Toe die dokter dit hoor, het hy gesê sy moet dadelik uit die skool gehaal word, want die siekte kan aansteeklik wees. Dit is die laaste keer wat sy skool toe is. “Daar is aan ons gesê dat daar nie veel is wat vir haar gedoen kan word nie, en sy moet net rus en binne twee weke behoort sy beter te wees.” Dit was egter nie die geval met Monique nie. Sy het al hoe sieker begin word, en so ook swakker. “Later kon sy skaars loop, en sy was besig om weg te kwyn.” Op 30 Augustus is Audrey weer met haar siek kind na Paarl Hospitaal en haar toestand het so verswak dat sy dadelik opgeneem is. Haar niere sowel as haar lewer was erg aangetas deur die siek- te, en daar is besluit dat sy na Tygerberg Hospitaal oorgeplaas moet word. “Monique het tot die einde toe geveg, maar haar lewer het nie meer gefunksioneer nie. Sy is Vrydagmiddag dood.” Isaacs het gesê dat Monique ’n ideale leerder was. “Sy was altyd netjies en het al haar take goed voltooi. Haar heengaan is ’n groot verlies vir ons skool en ons harte gaan uit na haar familie in hierdie moeilike tyd.” Isaacs het bygevoeg dat die skool raad inwin oor die aansteeklikheid van die geelsug. “Ons sal alles in ons vermoë doen om die veiligheid van ons kinders te verseker.” Monique word oorleef deur haar ouers en susters Jolene (12) en Megan (16). Sy word Saterdag om 11:00 ter ruste gelê vanuit haar ouerhuis te Hibiscuslaan 56 en daarna by Bethel Congregational Kerk. * A seven-year-old girl has died after contracting Hepatitis A.
More
News
|