Nederburg vestig nuwe kultivars
2008-09-11
OOR ’n paar jaar sal Nederburg sien of proefnemings om ongewone kultivars aan te plant, geslaagd was. ’n Klein gemengde blok carignan- en grenachestokke, wat nou aangeplant word en wat volg op ’n blok grenache van 2,7 ha en ’n blok carignan van 1,2 ha verlede jaar, word gesien as nog ’n boublok vir vernuwing in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. “Die doel is om die wynmakery op Nederburg op die klimaatsverandering voor te berei,” sê Hannes van Rensburg, die senior wingerdboukundige en groepbestuurder van al Nederburg se plase. Volgens Van Rensburg word carignan, wat die eerste keer in Spanje geïdentifiseer is, afgekraak as die alomteenwoordige druif van die Languedoc-Roussillon-streek. “Dit word soms nie hoog gereken nie, aangesien die wyn dikwels hoog in tannien en suur is, en nie baie goed verouder nie. “Nogtans kan ’n mens wyn met ’n karakter met wonderlike sjokolade- en donker vrugtesmake daarvan maak indien die drag lig gehou word. “Die stokke moet op die regte plek geplant word, soos byvoorbeeld in Priorat in Spanje. Dié kultivar vaar goed in gebiede met ’n warm klimaat, is droogtebestand en dit lewer wyn met ’n skerp, diep en ryk kleur. Dit word soms met grenache versny, maar ook met mourvèdre en tempranillo. “Ons sal egter eers moet sien van watter gehalte die druiwe is, en watter smaakprofiel dit oplewer voor ons sal besluit of ons dit vir ’n kultivarwyn of ’n versnit sal wil gebruik. “Deel van ons rol as wingerdboukundiges is om die potensiaal van eksotiese kultivars – uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt beskou – na te speur.” Van Rensburg het gesê toegang tot Italiaanse kultivars soos sangiovese, nebbiolo en barbera het Razvan Macici, die keldermeester, en sy span in staat gestel om ’n Italiaanse versnit te ontwikkel. Dié wyn was die eerste van sy soort wat plaaslik bekend gestel is. Dit is deel van die nuwe Ingenuity-reeks eksperimentele keurwyne. .
More
News
|