Ontwikkeling sloer
2008-09-11
DIE Drakenstein munisipale raad het weereens die beoogde ontwikkelingsprojek van Capetainer naby Klapmuts, wat reeds in 2006 deur die provinsiale regering sowel as die nasionale regering goedgekeur is, op ys gesit tydens verlede week se raadsvergadering. Die saak het reeds in Augustus 2007 voor die raad (op daardie tydstip in DA-beheer) gedien en daar is besluit dat die grond (plaas 736) verkoop sal word aan Capetainer, wat skeepshouers daar wil bou. Sedertdien het die ANC weer beheer van die Raad gekry, en die proses het gesloer. Die burgemeester, Charmaine Manuel, het verlede week by die raadsvergadering aanbevelings gemaak rakende die transaksie: * Dat as gevolg van die gebrek aan vordering met die finalisering van die transaksie die raadsbesluit van Augustus 2007 om omtrent 222 hektaar grond te verkoop aan Capetainer herroep word. * Dat omtrent 24 hektaar langs die N1 (aan die noordekant) gereserveer word vir moontlike verkoop aan Capetainer, onderworpe daaraan dat Capetainer hul swartbemagtigingstatus, terreinontwikkelingsplan en finansiële kapasiteit binne 30 dae vanaf die versoek verskaf. * Dat omtrent 60 hektaar aan die Paarlberg-kant (noordepunt van die terrein) aan die streeksgrondeisekommissie beskikbaar gestel word vir restitusiedoeleindes (Sakkieskamp-eisers). * Dat die res van die grond (138 hektaar) gereserveer word vir die ontwikkeling van ’n toekomstige nywerheidspark en dat daar voortgegaan word met die nodige aansoek vir grondgebruikveranderings. Raadslid Deetlefs du Toit (DA) wou weet of die Raad nog ’n jaar gaan wag om hierdie transaksie te finaliseer. “Die saak gaan nou al drie jaar aan. As dit drie jaar gelede afgehandel was, sou daar al drie jaar gelede werksgeleenthede geskep gewees het en ontwikkeling sou plaasgevind het,” was Du Toit se mening. Manuel wou weet of Du Toit dalk oor inligting beskik wat die Raad nie het nie. “Du Toit is besig om hierdie situasie vooruit te loop. Ons het meer inligting nodig om onderhandelinge te finaliseer. Daar is ook die grondeis wat gemaak is op daardie grond,” aldus Manuel Johan Visser (DA) het die Raad meegedeel dat daar geen direkte grondeis op hierdie spesifieke grond is nie. Manuel het hom verwys na ’n brief van die Grondeisekommissie waarin dit uitgewys word dat 60 hektaar van die grond beskikbaar gestel moet word vir restitusiedoeleindes. Die idee van die ontwikkeling van Capetainer is om ’n “binnelandse hawe” langs die N1 snelweg op te rig, waar staalhouers vervaardig sal word vir groot skeepsmaatskappye en gelaai sal word met vars produkte. Met die projek sal werksgeleenthede wat tans in Kaapstad is nader na die Paarl gebring word.
More
News
|