Blitsige wiele
2008-09-11
Lise Beyers
AS die publiek luukse swart viertrek-voertuie met blou ligte op plaaslike paaie sien ry, moet hulle nie dink dat dit hooggeplaaste politici is nie. Dit is eerder die nuwe spogerige blitspatrollie van Paarl polisiestasie. Hulle het verlede week ses Ford viertrek-voertuie ryker geword om dié streek te beveilig. Lede van die provinsiale polisiekantoor het Vrydag die voertuie oorhandig aan die Paarl polisiestasie. Hierdeur sal die blitspatrollie herleef, om veral landelike gebiede te dien. Stasiebevelvoerder dir Mzwa- ndile Tiyo het hierdie inisiatief verwelkom en gesę dat dit sal verseker dat afgesonderde gebiede nou spoedige polisiediens kan geniet. “Die doel van die landelike blitspatrollie is om die breë publiek te kan dien met sigbare polisiëring en ’n vinnige reaksietyd.” Die blitspatrollie sal die hele Boland-sektor bedien, maar dit sal beman word deur lede van Paarl polisiestasie. “Gewapende rooftogte en kapings het in die landelike gebiede toegeneem, en ons vind dat boosdoeners vanuit die Kaapse Skiereiland hierdie gebiede teiken, juis omdat die paaie hier verlate is. “Maar hierdie tendens sal nou verander met ’n op-en-wakker blitspatrollie.” Die spesifikasies van die viertrek-voertuie is juis bepaal om landelike- en plaaspaaie te dien wat dikwels in uiters swak toestande is. Hierdie inisiatief is deel van die polisie se misdaadbekampingsprojek, in voorbereiding vir die 2010 Sokker Węreldbeker, wanneer duisende besoek sal aflę. Binne die volgende jaar sal hierdie eenheid nog vier voertuie in gebruik neem om die eenheid nog meer doeltreffend te maak. Polisiebeamptes wat verantwoordelik vir dié motors is, sal ook professionele bestuursonderrig ontvang van Ford. * Paarl police station received six new 4x4 vehicles as part of their rural flying squad.
More
News
|