Klein Gim verower sewestrofee
2008-09-11
Jaco van Wyk
KLEIN GIM het onlangs die Paarl se naam hoog gehou toe die o.11 sewesspan klaargespeel het met elke span wat in hul pad probeer kom het tydens Laerskool Mikro se sewestoernooi. Laerskool Gimnasium het die trofee-kompetisie, wat in Kuilsrivier plaasgevind het, verower en sodoende stof in die oë van sestien ander desperate spanne geskop. Die Gimmies se triomf het egter nie sonder moeite gekom nie en hulle moes hul man staan teen ’n paar gedugte teenstanders. Gim het eers te staan gekom teen Laerskool Kenridge, teen wie hulle hard moes swoeg om ’n 7-0 oorwinning te verseker. Teen Laerskool Bredasdorp het die Paarlse bielies veel beter gekombineer om hul teenstanders gemaklik met 24-0 kaf te draf. Met ’n 12-5 oorwinning oor Laerskool Eikestad het Gim vir hulself ’n plek in die finaal van die toernooi oopgespeel. Soos die meeste finale maar gewoonlik is, was dié een self ’n kragmeting uit die boonste rakke. Gim het egter nie al die pad gekom om met silwer tevrede te wees nie, en hulle klop toe vir Laerskool Eikestad met 18-10 om die trofee huis toe te bring.
More
News
|