ANC stap uit moeilike raadsvergadering
2008-09-11
May Saal
DIE prestasie-evaluering van die munisipale bestuurder het verlede week chaos veroorsaak in die Drakenstein raadsvergadering. Die ANC het uitgestap nadat die DA volgehou het dat die buitelid van die evalueringskomitee, wat ’n burgemeester of munisipale bestuurder van ’n buurdorp moet wees, van Swartland (’n DA-beheerde munisipaliteit) moet kom. Hulle het ook geëis dat verteenwoordigers van twee opposisiepartye in die komitee moet dien. Hierdie amendement was vir die ANC onaanvaarbaar, maar hulle was in ’n hoek gedryf weens die afwesigheid van verskeie raadslede, wat beteken het dat die DA se mosie met stemming deur die opposiepartye goedgekeur kon word. Die ANC het vir ’n reses gevra, en nooit weer teruggekeer na die vergadering nie. Die burgemeester, Charmaine Manuel, het teruggekeer en die speaker, Sikhumbuzo Mgajo, ingelig dat die ANC nie meer deel is van die vergadering nie en Mgajo het die vergadering daarna verdaag. Volgens Manuel het die ANC uitgestap omdat die Raad nie ’n besluit kan neem wat nasionale wetgewing, wat bloot vereis dat ’n burgemeester of munisipale bestuurder van ’n buurdorp op die prestasiekomitee moet dien, asook een wyksraadslid van haar keuse, teengaan nie. “Die DA was in die meerheid en as daar moes gestem word, sou die DA weggekom het met ’n besluit teen nasionale wetgewing,” aldus Manuel. ’n Aanbeveling is in die vergadering gemaak dat die komitee wat die prestasie van die munisipale bestuurder, dr Sidima Kabanyane, beoordeel, saamgestel moet word uit die burgemeester, as- ook die voorsitter van die prestasieouditkomitee (Marika Krieg), ’n lid van die burgemeesterskomitee (Abe Bekeer), Mbekweni wykskomiteelid Neliswa Sambokwe en die burgemeester of munisipale bestuurder van ’n naburige munisipaliteit. Die DA en kie het ’n amendement voorgestel dat die burgemeester van Swartland, Anton Bredel, en twee lede van die opposisie daarin moet dien. Voorheen het die munisipale bestuurder van Stellenbosch in die komitee gedien (die Stellenbosse munisipale raad is onlangs deur die ANC oorgeneem). Die DA het vir ’n reses gevra en na die reses gesê dat hulle amendement verander word tot ’n voorstel dat slegs die burgemeester van die Swartland, Anton Bredel, as die naburige burgemeester aanwys, en dat wyksraadlid Sambokwe vervang moet word met ’n lid van die opposisie. Die ANC het weer beswaar gemaak, waarop Koos le Roux (DA) vir Manuel herinner het aan haar inhuldigingstoespraak in 2006, waarin sy verklaar het dat sy gebruik wil maak van al die raadslede se kundigheid. “Hoekom kan die burgemeester dit nie nou doen nie? Sy kies altyd mense uit ’n eksklusiewe groep om op komitees te dien,” het Le Roux gesê. Daarna het die ANC vir ’n reses gevra en nie weer teruggekeer na die vergadering nie. Die vergadering is verdaag en sal herskeduleer word om die agenda af te handel.
More
News
|