Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ongeluk eis man se been

Ongeluk eis man se been
 
2008-09-11

Lise Beyers

’n SAKEMAN van die Paarl se been is Dinsdagoggend afgesit, ná ’n fratsongeluk by sy fabriek.

Willem Fourie (49), eienaar van S+F Engineering, was laat Dinsdagmiddag besig om saam met werknemers toerusting af te laai by die besigheid se nuwe perseel in Noorder­Paarl toe hy beseer is.

Hulle het so pas ’n hidrouliese buigmasjien van twee en ’n half ton afgelaai en was besig om dit in plek te skuif met die hulp van ’n rollermeganisme.

Niemand is seker presies wat gebeur het nie, maar die buigmasjien het gewankel en bo-op Fourie en ’n werknemer, Karel Fortuin, geval.

Nog ’n werknemer, Jannie Fourie, wat ook gehelp het om die masjien te skuif, het gesê dat die tragiese voorval vir almal onkant gevang het.

“Als het so vinnig gebeur. Wat verkeerd geloop het is ’n raaisel. Ons het al dikwels vantevore hierdie tipe toerusting rondgeskuif. Ons weet presies wat die veiligheidsvereistes is, en volg dié noukeurig.

“Willem en Karel was lelik vasgepen en ek het dadelik die nooddienste gaan bel.”

Intussen het bure by die toneel aangekom toe hulle krete om hulp hoor. Die De Candia broers en Kobus en Andrew Thiart het met die hulp van ysterpale daarin geslaag om die een kant van die masjien op te lig en vir Fourie en Fortuin bevry. Dit het waarskynlik hul lewens gered.

Albei Fourie se bene is vergruis en hy het ook inwendige beserings opgedoen. Fortuin se bene is gebreek en sy een arm is uit potjie geruk.

Fourie is na die intensiewesorg­eenheid van die MediClinic in Milnerton oorgeplaas. Ná ’n noodoperasie om sy been te probeer red, moes die been egter Dinsdag afgesit word.

Fortuin sterk aan by Paarl MediClinic.

’n Vriend en kollega, Riaan Theart, het gesê dat almal wat vir Fourie ken, diep geskok is deur die gebeurtenis.

“Willem is ’n man wat op sy voete werk en dit gaan ’n moeilike tyd wees wat voorlê. Maar dié wat hom ken, weet dat hy iemand is wat nie maklik gaan lê nie, en ons is oortuig dat hy goed sal herstel.

“Hy sal wel ’n plan maak om weer spreekwoordelik op die been te kom.

“Ons almal se gedagtes gaan uit na sy vrou Marda en seuns Stefan en Franco, in hierdie moeilike tyd.

“Bo en behalwe die mediese onkostes, moet die huur en lone by Willem se fabriek betaal word. Dus is ons in die proses om ’n trustfonds tot stand te bring hiervoor, onder die ouditeurskap van Danie Germishuys.”

Enigiemand wat bydraes wil lewer, kan vir Theart skakel by 082­842-9835.

* A local engineer lost his leg in a freak accident at his factory.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za