Cultivaria kuierplek kook
2008-09-11
DIE Emporium op die sportstadion in Faurestraat is beslis dié plek om uit te span en asem te skep tydens vanjaar se Cultivaria-kunstefees in die Paarl. Vanaf 25 tot 28 September beloof die luukse emporium om die hartklop van die fees te wees met kos, wyn en musiekvertonings dwarsdeur die dag. Smulpape kan hulle verlustig in lekkernye wat deur bykans dertig plaaslike restaurante, deli’s en gemeenskapsorganisasies opgedis word. Die watertandlekker spyskaart bied fynproewersgeregte asook ware kontreikos. Besoekers kan van afval en waterblommetjiebredie tot shwarma’s, oesters en seekos, biltong en braaivleis, sowel as kase, slaaie en ontwerperstoebroodjies geniet. Vars aarbeie, pannekoeke en fyngebak om van te kies en te keur, sal enige soettand se hart verbly. Die emporium bied ook ’n warrelwindwyntoer van die Drakenstein-omgewing aan met van die top wynprodusente soos KWV, Nederburg, Boland Kelders, Val de Vie, Glen Carlou en Simonsig wat hulle bekroonde wyne te proe sal aanbied. Besoekers staan ook die kans om van hulle gunsteling-sepiesterrie soos Scab (Izak Davel) en Bertie (Hennie Smit) van Egoli-faam raak te loop. Top musikante bied vermaak regdeur die dag met plaaslike talent soos Cosy, Jonny Apollis Dansorkers, die Mbekweni Black Bafanas en Loren in aksie om feesgangers in die luim te kry. Saans kan besoekers die polsende ritmes van groepe soos McCully’s Workshop en James Frank en the Sticky Fingers geniet terwyl hulle die feestelike atmosfeer van die emporium geniet. Met immergroen treffers van Billy Joel, die Moody Blues en Nina Simone is Die Burger Emporium die ideale uitspanplek tussendeur die top teaterproduksies wat regdeur die dorp aangebied word. Vir vermaak en spyseniering uit die boonste rakke, moenie die pret en plesier by Die Burger Emporium misloop nie. Die Bokomo Kombuis bied ook daagliks kosdemonstrasies en kooksessies met vooraanstaande sjefs, koslegendes soos Peter Veldsman, kosredaktrises van vooraanstaande vroue-tydskrifte en vermaaklikheidsterre. Sitplekke vir die kosteater is beperk en kan aanlyn of by die deure verkry word teen R20 per sessie. Ingang by die Faurestraat-stadion is R10 by die hek. Die tent is oop die Vrydag van 11:00 tot 22:30, die Saterdag van 09:00 tot 22:30 en die Sondag van 09:00 tot 19:00. Vir aanlynbesprekings, besoek www.cultivaria.com of skakel 021- 872-9754.
More
News
|