Kavaliers laat Bulle sweet, maar moet nou wen
2005-07-14
DIT is amper soos die grappie waar Van der Merwe vir Piet sê: ‘‘Ek hoef nie vir die leeu te kan weg hardloop nie, net vir jou.’’
As die Boland Kavaliers met die res van die kleiner unie-spanne in sy groep kan afreken, kan hulle beslis hul eerste doelwit in vanjaar se Curriebeker, om die Top 8 te haal, bereik.
Die eerste sege van die Kavaliers sal egter Saterdag op Wellington teen die OP Olifante moet wees.
Die Boland het in hul nederlae teen die Haaie (37-23), Leeus (32-27) en Blou Bulle (41-29) manmoedige vertonings gelewer en daarin geslaag om twee ligapunte in te palm. Die drie hoogste hekkies in Afdeling X is dus vir die Kavaliers agter die rug.
Die Olifante (in die vierde plek) lê tans bokant die Kavaliers op die punteleer met ses punte danksy ’n naelskraapse 32-31 oorwinning oor die Valke Saterdag.
Die Kavaliers se werk is dus vir hulle uitgeknip.
Die Wellington-span het in die eerste drie wedstryde gewys dat geen span ’n vanselfsprekende vyf punte kan aanvaar wanneer daar teen hulle uitgedraf word nie.
Dit was juis die Boland se veggees wat hulle Saterdag in die tweede helfte sterk laat terugkom het.
Jongikhaya Nokwe het weer die verbeelding aangegryp met sy genadelose spoed en twee drieë gedruk, een van hulle na 'n naellopie oor bykans die hele lengte van die veld.
Hoewel die Kavaliers se rekord teen die OP op Wellington in die tuisspan se guns tel, onderskat Boland geensins die besoekers nie, se„ hul spanbestuurder, Denver Pienaar.
‘‘Ons sit egter met ’n paar beserings. Henley du Plessis en Solly Goosen is steeds buite aksie en ons is nog onseker oor die fiksheid van Jacques Schutte (lamboud), Antonius Verhoeven (skeen) en Jaco Engels (knie).’’
Hulle moet almal in die beginspan uitdraf maar ons sal eers tydens vanaand se oefening sien of hulle beskikbaar sal wees,’’ het Pienaar gistermiddag gesê.
Hy het bygevoeg dat die Kavaliers die OP se goeie agterlyn wil neutra liseer deur hulle in die vaste en losskrums te probeer ontwrig.
Die wedstryd op Boland Stadion begin om 16:00 en word om 13:45 deur ’n wedstryd tussen die Provinsiale Amateurspanne van Boland en SWD voorafgegaan.
More
News
|