Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bôrdinghuis gee momentum by Breyten

Bôrdinghuis gee momentum by Breyten
 
2008-09-11


DIE aktiwiteite by die Breytenbach-sentrum op Wellington het hierdie week splinternuwe momentum gekry toe die teaterkafee, Die Bôrdinghuis, op 9 September amptelik in gebruik geneem is.

Die gebou wat die teater huisves, is aan die agterkant van die Breytenbach-huis geleë en was vroeër jare vir ’n lang tyd ten nouste deel van Breyten Breytenbach se lewe as skoolseun op Wellington.

Die gebou is pas volledig opgeknap en in ’n teater verander. Wat indertyd Breyten se slaapkamer was, vorm vandag deel van die teaterkafee se verhoog.

Die teaterkafee is pas met ’n opwindende program wat as Paradys bekend staan, in gebruik geneem.

Dit het op 9 September begin met ’n musiekoptrede deur die gevierde Belgiese kunstenaar Eva de Roovera. Sy het saam met kitaarspeler Roeland Vandemoortele van haar bekendste liedjies gesing.

Paradys is ’n program van musiekaande, kunsuitstallings en werkswinkels wat tot 14 September by die Breytenbach-sentrum aangebied word.

Baie van die musiekaande is moontlik gemaak met die samewerking van die Nederlandse ambassade.

Die Nederlandse sangeres Niki Romijn het op 10 September van haar bekende toonsettings van die gedigte van Ingrid Jonker in die teaterkafee kom sing. Die Wellingtonse Lukhanyo-koor het saam met haar opgetree.

Vandag tree Souldada, ’n musiekgroep van Friesland in die teaterkafee op.

Volgens Theo Kemp van die Breytenbach- sentrum is die opening van Die Bôrdinghuis ’n belangrike volgende tree op die Breytenbach-sentrum se pad om kunstesentrum van die Wynland te word.

Daar word op die oomblik ook gewerk aan planne om Breyten Breytenbach se huis op Montagu te omskep in ’n werkplek vir kunstenaars waar hulle onder meer van hulle werk gereed kan kry vir ’n uitstalling of ’n uitvoering by die Breytenbach-sentrum op Wellington.

Op ’n Hoë Noot, Juanita Swanepoel se stuk wat gegrond is op uittreksels uit PH Nortjé se gelyknamige versamelbundel, is nog ’n belangrike opvoering wat binnekort by die Breytenbach-sentrum aangebied gaan word.

Dit word op 14 September opgevoer met die bekende Nic de Jager en Eben Genis in die rolverdeling.

Die Breytenbach-sentrum wil volgens Kemp nie net belangstelling in die kunste bevorder nie, dit wil veral ook die werk van plaaslike kunstenaars help bevorder. Daarom het die Drakenstein-kunsvereniging se groepuitstalling, Groen, op 10 September in die sentrum begin.

Altesaam 25 lede van die vereniging neem aan die uitstalling deel wat tot 30 September duur.

Op 13 September bied die sentrum ’n konsert van die plaaslike Lukhanyo-koor aan.

Ander voorbeelde van die sentrum se pogings om plaaslike kunstenaars te bevorder is George Meiring se gratis kunsklasse vir opkomende kunstenaars op 13 September en die mosaïekwerkswinkel wat Desiree Malan ook op 13 September vir plaasvroue aanbied.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za