Windmeul United gekroon
2008-09-11
WINDMEUL UNITED het Saterdag geskiedenis gemaak toe hulle met ’n 31-21 oorwinning oor Riverstones as die heel eerste ligawenners in die Paarl Rugbystreek aangewys is. Riverstones het eerste kans gekry om punte aan teken, maar na hulle misluk het met vier maklike strafskoppogings na die pale in die eerste tien minute, het Windmeul eerste punte aangeteken met ’n strafdoel deur Jannie Williams. Hierna het Windmeul behoorlik ingeklim met Willem Conelissen en Jonty Fortuin aan die voorpunt. Kort voor lank het die harde werk voorlangs gelei tot ’n verdoelde drie aan Wilfred Solomons. Riverstones het teruggeantwoord deur sy swaar pak voorspelers die dreunwerk te laat doen. Windmeul het egter goed kopgehou en hul kaptein, Shane Simonse, het ’n puik drie gaan druk. Na ’n 17-0 voorsprong was Windmeul ewe skielik op die agtervoet gedwing en Riverstones het ’n pragdrie gaan druk. Windmeul se WP Disas- speler, Granton Marinus, het hierna sy krag vertoon deur menigte aanvalle te loods om sy span weer op die voorvoet te kry. Met die afskop van die tweede helfte, en met die telling op 17-7, het Windmeul se Marius Draai, Gavin Fortuin, John Jantjies en Ricardo Simonse weereens sterk ingeklim, wat gelei het tot ’n verdoelde strafskop vir Windmeul. Na sestig minute se harde rugby het Riverstones hul versterkings op die veld gestuur en twee pragdrieë gaan druk om hul span, vir die eerste keer in die wedstryd te laat voorloop met 21-20. Windmeul het egter nie gaan lê nie en nog ’n strafskop verdoel om weer die voortou te neem. Riverstones het verskeie aanvalle geloods, maar sterk verdediging deur Windmeul het gelei tot Willem Cornelissen se onderskep-drie om die wenpunte te behaal. Windmeul III het ook hul liga verower nadat hul vir Riverstones III met 7-5 getroef het. Riverstones II het 34-3 gewen teen Windmeul II.
More
News
|