Vuurwerke Saterdag op Boland-stadion verwag
2008-09-11
Jaco van Wyk
KLIPHARDE hardlooprugby is wat die toeskouers Vrydag tydens die Schoolz Unite Super8-rugbykompetisie verwag het, en dis wat hulle toe ook gekry het. Die groot skare op Boland-stadion was behoorlik bederf met topklasrugby deur plaaslike skole New Orleans, Paulus Joubert, Groendal en Bergrivier, met Wolseley Sekondêr, Waveren Sekondêr, Schoonspruit en ’n uitnodigingspan, wat almal deel gevorm het van die toernooi. Die uitspeelwedstryde het Vrydag om 15:00 afgeskop, met New Orleans wat vir Groendal met 42-0 getroef het. New Orleans se groot uitblinkers was hul staatmakerkaptein, Clayton Blommetjies, en Gilmore Watts, wat twee drieë elk aangeteken het. Ryan Jordaan en Chester van Wyk het elkeen ook ’n drie behaal. Blommetjies was in die kol met vyf doelskoppe terwyl Jordaan een doelskop aangeteken het. In die tweede wedstryd van die dag het Wolseley die uitnodigingspan met 26-3 getroef. Hierna het Waveren net-net, met 15- 11, afgereken met Paulus Joubert. In die hoofwedstryd van die dag was daar min te kies tussen Bergrivier en Schoonspruit, met laasgenoemde wat op die ou einde met 15-12 die botoon gevoer het. Die besoekers het egter ’n skepskop in die laaste minuut behaal om aan hulle ’n oorwinning te verseker. Bergrivier se drieë is gedruk deur Ramen Samuels en Jason Engeldoe terwyl Garth April ’n doelskop behaal het. Volgens Edward Abrahams, organiseerder van die toernooi, dui sake nou op ’n Schoonspruit/New Orleans finaal. “Albei skole beskik oor ’n gebalanseerde span met hope balspelers.” Saterdag meet Groendal en die uitnodigingspan kragte in die eerste plaat semi-finaal om 10:00. Om 11:15 ontmoet Bergrivier en Paulus Joubert in die tweede plaat semi-finaal. Om 12:30 speel New Orleans teen Wolseley in die eerste uitklop semi-finaal terwyl Schoonspruit en Waveren om 13:45 teen mekaar te staan kom in die tweede uitklop semi- finaal. Die plaatfinaal skop om 15:00 af, met die uitklopfinaal wat om 17:00 beslis sal word. Al die wedstryde word op Boland-stadion se B-veld gespeel.
More
News
|