DIS met hartseer dat ek lees Ou Paarliet is verbitter oor Nieu- Seeland (Paarl Post 4/9/08).
Ek was daar, en ja dis ’n wonderlike land - ook met hul probleme en misdaad.
Dis nie net sleg nie. Jammer, maar van ons Suid-Afrikaners is maar snobs - hulle wil net dine en wine en dink hulle kan daar vinnig ryk word en die prime werke uitslaan.
As jy twyfel, moet jy liewers besin en bly.
Hier wil die kinders nie till slaan en huise skoonmaak nie, maar in NZ wil hulle dit doen!
As jy hier alles opgee, moet jy weer van vooraf begin en bereid wees om swaar te kry - geen verhuising is maklik nie en niks gaan in jou skoot val nie.
’n Mens moet vooraf jou huiswerk doen en nie net blindelings gaan nie.
Natuurlik vertel mense net die mooi - dit lyk soos SA en mens kan maklik aanpas, maar teen ’n prys.
Die Kiwi’s was baie behulpsaam en meer as bereid om jou met raad en daad by te staan. Toegegee, hulle vat hul tyd met goed soos werksaansoeke, maar ons moet onthou ons is die indringers en hulle is nie verleë oor jou nie - en die onus is op jou wat jy daarvan maak.
Die winkels is ook goed georganiseer en Donderdagaande is familie-aand, en as jy jou oë oophou - daar is baie “specials” en jy moet die advertensieblaaie dophou - kan jy dan goed leef en selfs nog ’n biertjie ook bekostig.
Behuising is geweldig duur - maar waar in die wêreld is dit nie ’n probleem nie en die petrol- prys?
Onthou daar is baie Oosterlinge wat ook daarheen stroom - met baie geld, en die gevolg is dat alles wat ’n tyd gelede nog relatief goedkoop was, ook net styg.
Ou Paarliet, ek hoop van harte dat jy nie NZ sal slegmaak nie, maar ook die positiewe sy sal raaksien en ek hoop jy het geleer dat ’n mens eers kruip voor jy kan loop.
Sê maar net
Oud-Kiwi