Paarliet se foto bekroon
2008-09-18
’n PAARLSE inwoner, Rita Meyer, het saam met haar seun presteer in die onlangse Fuji Film Wildlife-fotokompetisie. Rita, wat reeds heelwat toekennings op haar kerfstok het, se foto van ’n seekoei, wat in die Kruger Wildtuin geneem is, het onder die top 50 beland. Haar seun, dr Human Meyer van Nelspruit, het drie foto’s wat sertifikate ontvang het in dieselfde kompetisie. Altesame 10 000 foto’s van 700 fotograwe is ingeskryf vir die wedstryd. Rita en Human beoefen hierdie stokperdjie al langer as vyftien jaar. Hulle het beide ’n groot bewondering en waardering vir die natuur en spandeer baie van hul vrye tyd in die buitelug. Rita vertel dat die geheim om ’n goeie natuurfoto vas te lê, gebaseer is in geduld, deursettingsvermoë, en ’n sekere mate van moedswilligheid. “Dit gebeur dikwels dat terwyl jy vir ’n spesifieke voël wag, dan kom ’n velddiertjie te voorskyn, en jy word die geleentheid gebied vir ’n besonderse foto. “Al wonder ons soms hoekom ons in moeilike omstandighede lang ure deurbring om die perfekte foto te neem, is die resultate van ’n spesiale foto ’n besonderse ervaring.”
More
News
|