Motorwagte se dae dalk getel
2008-09-18
Lise Beyers
MOTORWAGTE in die Paarl middedorp is bekommerd dat hulle werkloos mag wees, as die middedorpontwikkeling voortgaan en sekere publieke ruimtes herontwikkel word. Die moontlikhede van Lady Greystraat, tussen Hoofstraat en Versterstraat, is ook nie uitgesluit nie. En vir Elizabeth McKenzie, is dit nie ’n goeie vooruitsig nie. Ses jaar reeds staan Elizabeth hier en verdien daagliks haar brood en botter, self in versengende hitte en stortreën om te verseker dat verbruikers in die middedorp se voertuie veilig bly. Wat vir Elizabeth egter heel uniek maak, is die feit dat sy op die gevorderde ouderdom van 66 jaar bereid is om vir bykans nege uur per dag op haar voete paraat te staan. Sy is ook een van die duisende bejaardes landwyd wat probeer oorleef van ’n nederige regeringspensioen. Elizabeth het jare gelede eers as ’n kok gewerk, en hierna as huishoudster. In daardie tyd was hierdie beroep nie beskerm met werkloosheidsversekering en ’n aftreepensioen nie. Dus, toe die ouderdom haar begin inhaal en die werk al hoe skaarser geraak het, moes sy ’n alternatief soek om kop bo water te hou Elizabeth se man, Pieter, was ook werkloos, en so het hulle albei vir hulle staanplek gekry in die middedorp. Elizabeth staan tussen Fabriek- en Versterstraat. “Om hier te werk is hard, maar dit is ook lekker. “Ek hou baie daarvan om mense te leer ken, en talle van my kliënte ken ek op die naam. Ons gesels altyd eers ’n bietjie, en terwyl hulle in die winkels is, kyk ek mooi na hul karre. “Om hier te staan is soos enige ander werk. Jy moet betyds op jou pos wees anders laat glip jy geld uit jou hand. “Of as jy vir ’n paar dae nie jou verskyning maak nie, sal iemand jou plek vat.” Al is dit soms ’n baie lang dag vir Elizabeth, verdien sy darem genoeg om te oorleef. Sy vertel dat op ’n stil dag sal sy so R70 huis toe neem, maar op ’n goeie dag, meer as R100. Die buksies Elizabeth en Pieter het bekende gesigte geword in die dorp. Saam het sy en Pieter goed gedoen, maar met Pieter se onlangse siekte en skielike afsterwe, voel dit vir Elizabeth asof haar langverwagte aftrede nou in die verskiet lê. “Ek sal moet aanhou werk. “Ek het onkostes om te betaal en moet op my oudag na myself kyk, want niemand anders gaan dit doen nie.”
More
News
|