Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Cultivaria skittervertonings skuif

Cultivaria skittervertonings skuif
 
2008-09-18


PAARLIETE en besoekers moet beslis ’n aantekening maak van die topproduksies wat in die Moirs-saal aangebied word tydens die Cultivaria kunstefees van 25 tot 28 September.

Hierdie saal by die New Orleans Sekondêre Skool gaan die tuiste wees vir van die fees se mees glansryke en duurste produksies (die Strauss-saal is nie meer beskikbaar nie).

* Die musikale aksie skop af op Vrydagaand 26 September om 18:00 met die Local is Lekker konsert.

Tydens hierdie witwarm produksie kry top plaaslike talent soos Ysterkoei en die Kingston Rockers die geleentheid om die kollig te deel met die spesiale gaskunstenaar, Idols wenner Jody Williams. Kaartjies is R10.

* Saterdagoggend 27 September om 09:00 kan die jongspan nader skuif vir ’n prettige oggend van kindervermaak met immergewilde karakters soos Liewe Heksie, Hansie en Grietjie asook Jannie de Bruin, Dennis die Nar, Gorrie en die Grilgrot en Danie Malherbe se slangdemonstrasie.

Toegang is gratis.

* Vir komiese verligting bied Oscar Petersen en David Isaacs ’n wenresep in Joe Barber 4 the People. Moenie hierdie skaterlag-komedie Saterdag om 14:00 en 20:00 misloop nie. Kaartjies is R75.

* Saterdagmiddag 27 September om 17:30 sal die superkoel-meisiegroep Jamali die gehoor ritmies oorrompel met hulle polsende musiek en fantastiese stemme.

Die groep het in 2004 op die plaaslike vermaaklikheidstoneel ontplof toe hulle die gewilde Popstars-kompetisie gewen het en het reeds voor Oprah Winfrey en tydens die 46664 konsert opgetree. Kaartjies is R80.

* Die New Orleanssaal gaan ook die lokaal wees vir Cultivaria se afsluitingskonsert Paarl Pops op Sondag 28 September om 19:00.

Paarl Pops, aangebied deur Drakenstein Munisipaliteit, is die sensasionele grand finale vir vanjaar se fees en beloof om soos in die verlede ’n treffer te wees.

Die ongelooflike stemme van Brandon October, Kevin Leo and The Voices, Jamali, Idols ster Andriëtte Norman en Charlene Truter word gekombineer in ongelooflike kombinasies van huidige en immergroen treffers.

Hierdie talentvolle sterre word deur ’n simfonie-orkes begelei vir ’n ware musikale fees.

Kaartjies is by die deur beskikbaar van R80 tot R100.

Kaartjies vir die Cultivaria Fees kan aanlyn by www.cultivaria.com bespreek word of skakel 021-872-9754.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za