Orleans word gepootjie
2008-09-18
Jaco van Wyk
BLOED, sweet en trane is hoe Saterdag se titaniese eindstryd tussen New Orleans Sekondêr en Schoonspruit Sekondêr opgesom kan word, want, het die bal op dié dag reg gehop, kon die wedstryd maklik in New Orleans se guns geswaai het. Voeg daarby deursettingsvermoë, dan vertel dit die verhaal van hoe twee skitterende rugbyspanne waarlik hul liggame op die spel geplaas het om uiteindelik die SchoolzUnite Super8 trofee omhoog te hou. Die span van Malmesbury, Schoonspruit Sekondêr, het uiteindelik die trofee met ’n 7-3 oorwinning in die bekerfinaal beklink. Alhoewel New Orleans miskien ’n oorwinning ’n knipseltjie meer verdien het as hul opponente, moet alle krediet aan die kampioenspan gaan aangesien hulle ’n uiters magtige aanslag afgeweer het. Met slegs ’n paar minute se speeltyd oor, het die Paarliete soos besetenes, uit elke hoekie van die veld, die een aanval na die ander geloods. Schoonspruit se verdediging was egter rotsvas, hoewel Clayton Blommetjies gelyk het of hy enige oomblik die manne van Malmesbury se lyn sou breek. Die losskakel Ryan Jordaan was, op die aanval en op die verdediging, uitstekend vir New Orleans, terwyl Jovan Willemse en Adri Jacobs self geweier het om enigsins lyf weg te steek. Op die ou einde was Blommetjies se enkele strafdoel ongelukkig New Orleans se enigste punte van die wedstryd. New Orleans het vroeër die middag vir Wolseley met 62-5 verslaan in die eerste beker-semifinaal. Die Paarliete se drieë is gedruk deur Denver Jacobs (drie drieë) , G du Plessis (twee drieë), Clayton August, Gilmore Watts, Ryan Jordaan en John Jantjies. Jordaan (3) en Curtley Davids (4) het die doelskoppe aangeteken. In die tweede bekersemi-finaal het Schoonspruit met 38-0 gewen teen Waveren. In die Plaatfinaal van die kompetisie het Bergrivier vir Groendal met 32-7 getroef om die titel te verower. Bergrivier se driedrukkers was Jason Engeldoe (twee drieë), Godfrey Allies, Selwin Dreyden en Henrico Demas. T Gertse het twee doelskoppe en ’n strafdoel behaal. Bergrivier het vroeër die dag, in die plaatsemi-finaal, hard geswoeg om ’n 25-21 oorwinning oor Paulus Joubert te behaal. In die ander plaat-semifinaal het Groendal met 27-7 koning gekraai oor ’n Uitnodigingspan.
More
News
|