Soet en suur by ANC-verkiesing
2008-09-18
May Saal
DIE ANC Boland se bestuurskomitee is uiteindelik gekies by ’n streekskongres in die Paarl, ten spyte van die voortdurende ontevredenheid binne die party oor die proses wat gevolg is. Die komitee is voorheen oorheers deur Rasool-onder- steuners, met Dan Kotze (Drakenstein- raadslid) as voorsitter. Hierdie komitee het onder meer vir Drakenstein burgemeester Charmaine Manuel “geskors”, omdat daar nie verlede jaar met hulle gekonsulteer is oor die samestelling van die munisipale uitvoerende komitee nie. Die hele komitee is nou vervang met Skwatsha-ondersteuners, nadat die ou bestuur herhaaldelik geskors is deur die provinsiale bestuur van die ANC weens hul vendetta met Manuel (’n lid van die Skwatsha- groepering). Die nuwe voorsitter is Mphumi Hani (speaker van die Kaapse Wynland-distriksmunisi- paliteit), met ondervoorsitter John Ngonyama (burgemeester van Breërivier Wynland Munisipaliteit), sekretaris Colin Rens (personeellid in die burgemeester se kantoor by Drakenstein Munisipaliteit), adjunk-sekretaris Patrick Marran (raadslid by Breërivervallei) en kassier Chrissi Brink (burgemeesterskomiteelid by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit). Die addisionele lede op die streekkomitee wat Drakenstein verteenwoordig, is Bongiwe Fikizolo, Johnson Zwinye en Abe Bekeer. Die verdeeldheid binne die ANC in die Boland is blykbaar nog erger as voorheen, “want die hele komitee bestaan uit Skwatsha-onder- steuners en daar was baie ongerymdhede tydens die aanwysing van die nuwe streekkomitee,” sê ’n ontevrede ANC-lid wat anoniem wil bly. Verskeie afgevaardigdes uit die Rasool-kamp het buite die verkiesingslokaal (Paarl Obos- kantoor) gewag om toegelaat te word tot die kongres, maar is uiteindelik net as waarnemers ingelaat sonder stemreg. Daar is ook ontevredenheid oor die verkiesing van Rens, wat in 1996 tot tronkstraf gevonnis is vir die steel van twee skape by die veekrale op Gouda terwyl hy ’n polisieman op Saron was. Hy het van November 1997, toe sy appèl misluk het, nege maande tronkstraf uitgedien (die helfte van die vonnis van 18 maan- de is opgeskort vir vyf jaar). Volgens Rens is hy regmatig verkies tot bestuurslid van Boland. “Ek het myself bewys dat ek as ‘n beter mens tot hier gekom het waar ek vandag is,” aldus Rens. * Dan Kotze verskyn vandag in die Paarlse landdroshof op aanklag van aanranding van ’n Paarlse grondeienaar en sy vrou, tydens ’n stryd oor die uitsetting van ’n werker.
More
News
|