Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Oud-leerder sterf tragies

Oud-leerder sterf tragies
 
2008-09-18


LEERDERS van Hoër Meisieskool Paarl is verlede week in rou gedompel, nadat ’n oudleerder tragies gesterf het.

Die sestienjarige Kylie Pienaar is Woensdagmiddag in die Strand op haar bromponie getref deur ’n polisievoertuig wat verhoorafwagtende gevangenes vervoer het.

Volgens ooggetuies het dié voertuig oor ’n rooi verkeerslig gejaag en eers ’n motor langs Kylie getref, wat op sy beurt vir haar getref het. Sy het onder die polisievoertuig se as beland, en is vir etlike meter ver gesleep.

Kylie se pa, Keith (beter bekend as Chappies), is ’n ervare reddingswerker wat eerste op die toneel was.

“Ek het dadelik Kylie se motorfiets herken, en toe ek haar liggaam onder ’n voertuig se as sien lê, het ek geweet dat sy dood is.

“Met die hulp van lede van die insleepdienste, het ons die polisievoertuig opgelig om haar liggaam daar onder uit te haal. Ek het haar motorfietshelm afgehaal en haar kop op my skoot gesit. Daar was niks wat ek kon doen nie.”

Keith is reeds meer as twintig jaar betrokke by die ambulansdiens, waarvan die meeste daarvan in die Paarl was.

Hy het onlangs vir ’n private ambulansdiens in die Strand begin werk, en was die eerste reddingswerker op die ongelukstoneel.

Kylie was tot verlede jaar ’n graad 10 leerder by Hoër Meisieskool, voordat die gesin na die Strand verhuis het. Sy was baie gewild onder haar vriende, en ’n model-student.

Haar oupa, Smuts de Ridder van die Paarl, het gesê almal wat vir Kylie geken het, is ten gronde oor die tragiese voorval.

“Dit was so onnodig. Wat gee die polisie die reg om so onverskillig te ry, veral wanneer dit nie ’n noodgeval is nie?”

Sy word oorleef deur haar pa, ma Anneli en jonger suster Silka (12). ’n Hoogs emosionele roudiens is Dinsdag vir Kylie in die Strand gehou.

Vrae word nou gevra oor die hoë spoed waarmee polisie- voertuie gevangenes aanry. Daar word bespiegel dat dit direk gelei het tot Kylie se dood.

Selfs Keith, met sy jarelange ervaring van na ongelukstonele snel, het gesê dat hy in ’n noodgeval stadiger ry as hy by ’n rooi verkeerslig kom, en die kruising eers oorsteek as hy seker is dat dit veilig is.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za