Gevare van alkoholmisbruik bekyk
2008-09-18
VERSKEIE bewusmakingsaktiwiteite is in en om die Wellington-area geloods ter bewusmaking van Internasionale Fetale Alkoholsindroom Dag op 9 September Op Dinsdag 9 September om 09:09 het die klokke weergalm in en om die dorp om die gemeenskap bewus te maak dat vrouens nie tydens die nege maande van swangerskap alkohol moet drink nie. Verskeie laerskole in die area en die landelike gebiede het meegeding in ’n tekenprent-kompetisie om die gevare wat alkoholmisbruik vir ongebore kinders inhou, uit te beeld. Daar is ook inligtingsessies oor Fetale Alkoholsindroom by die daghospitale en klinieke asook plase aangebied. Die organisasie FASFACTS het die kinders op ’n vermaaklike, dog leersame wyse bewus gemaak van die gevare van alkohol tydens swangerskap. Hulle het ook die kinders uitgedaag om deel te neem aan ’n Rap-kompetisie wat baie deelname en opgewondenheid meegebring het. Soortgelyke bewusmakingsaksies word vir die volgende vier jaar in Wellington area beplan en ons beoog om hierdeur die boodskap te versprei dat, geen hoeveelheid alkohol veilig is tydens swangerskap nie. Tydens hierdie bewusmakingsaktiwiteite is 4430 persone bereik.
More
News
|