Kunstenaar vereer
2008-09-25
DIE biografie van ’n voormalige Paarliet, Michelle Redelinghuys van Dyk, is so pas geloods. Hierdie begaafde kunstenaar is ses jaar gelede in die ouderdom van 39 oorlede in ’n motorongeluk tussen Bettiesbaai en Kleinmond. Haar seuntjie het die ongeluk oorleef en was saam met medici aan haar sy toe sy gesterf het. Die begaafde Michéle was ’n skitterende oud-leerling van La Rochelle wat ’n MA Beeldende Kunste aan US verwerf het en verder studeer het aan De Hoogere Institut, Antwerpen. “Mijske, ’n Onderbroke Lewe”, is ’n kennismaking met haar aangrypende kunswerke wat insig gee in die mag van bipolêre gemoedsteuring. Haar sprekende etse en skilderye deurdring die psige met al die krag van intieme kommunikasie met haar hartstog, vreugde, angs, pyn en uitbundige euforie. Die intensheid van haar lewe loop soos ’n smelt-warm- ketting deur haar skepping. Ten tyde van haar dood was slegs haar opspraakwekkendste skilderye bekend. Sowat 300 van haar sprekende etse en skilderye is nou te sien in hierdie nuwe publikasie. Van die werke word ook uitgestal by die Sasol Kunsmuseum op Stellenbosch tot 3 Oktober, by La Rochelle Hoërskool van 26 tot 28 September en by die Breytenbach-sentrum in Burgerstraat, Wellington.
More
News
|