Wat die water onthou
2008-09-25
DIE bekende Afrikaanse skrywer, Marlise Joubert, stal vanaf 2 tot 31 Oktober uit by die Breytenbach-sentrum op Wellington. Die opening word op 2 Oktober om 19:00 waargeneem deur skrywer Riana Scheepers. Die uitstalling, getiteld “Wat die water onthou”, sluit waterverf-werke in. Joubert skilder oor alles moontlik wat die water aan haar oordra of fluister: stillewes, naakstudies, landskappe, portretstudies, geboue, sonars van babas. “Trouens, enigiets wat my op daardie kreatiewe moment inspireer of meevoer. Ek eksperimenteer ook graag met verskillende waterverftegnieke. “Om waterverf te beheer is egter veel moeiliker as olieverf of akriel, en juis daarom is dit so ’n uitdagende en verrassende medium vir my,” sê Joubert. Joubert het in 1971 debuteer met die digbundel, ʼn Boot in die woestyn. Daarna het nog vyf digbundels gevolg waarvan die jongste, Passies en Passasies, in 2007 verskyn het. Sy het drie romans gepubliseer te wete Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van Glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode Granaat (1981). Sy het ook verskeie radiodramas geskryf wat reeds vier keer pryse van die RSG/Sanlam radiodrama-kompetisie verower het. Nadat sy 16 jaar lank vir die Departement Beeldende Kunste by Universiteit van Stellenbosch gewerk het, word sy ’n algemene assistent vir vyf jaar lank by Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Skakel die Breytenbach-sentrum by 021-873-2786 of stuur ’n e-pos na theokemp@breytenbachsentrum.co.za
More
News
|