Beoordelaars beïndruk
2008-09-25
AANGESIEN Veritas die naam is van die Romeinse mitologiese godin van die waarheid, is dit heel gepas dat die Veritas-toekennings, wat vanjaar vir die 17de keer in Suid-Afrika aangebied word, hierdie naam dra – die waarheid oor die wynbedryf se goue seuns en dogters sal bekend gemaak word. Hierdie jaar is die 1 753 inskrywings geëvalueer deur ’n gedugte span beoordelaars bestaande uit 105 kundiges van uiteenlopende, maar wynverwante agtergronde, insluitend wynmakers, wynjoernaliste en -konsultante van so ver as Kanada, Swede, Duitsland, die Verenigde Koninkryk, Australië en Nederland. Verlede week het vyftien panele beoordelaars die inskrywings by die Nederburg Veilingskompleks geproe, hul professionele menings gedeel en konsensus bereik ten einde die wenwyne te identifiseer. Vir die sewende agtereenvolgende jaar het Shiraz die meeste inskrywings met 220 wyne, met Sauvignon Blanc op sy hakke met 192 wyne en Cabernet Sauvignon met 187. Die teenwoordigheid van ses top internasionale wynkundiges sal vanjaar weer eens die geloofwaardigheid van die uitslae versterk. Die internasionale beoordelaars verteenwoordig lande waar Suid-Afrikaanse wyne verkoop word en is in hul eie lande hoogsaangeskrewe wynproewers. Dave Hughes, een van Suid-Afrika se mees prominente wynkundiges en self ’n bekende internasionale beoordelaar, het ’n sleutelrol gespeel in die samestelling van hierdie indrukwekkende paneel. Die internasionale delegasie sluit in dr Isabelle Lesschaeve (Kanada), ’n professionele lid van die Amerikaanse Vereniging van Oenologie en Wingerdbou; Ian McKenzie (Australië) is bekend vir sy rol in die ontwikkeling van Seppelt Salinger (een van Australië se bekendste vonkelwyne) en Penfolds Yattarna (Australië se gunsteling Chardonnay), en Sebastian Braun, wat verantwoordelik is vir die seleksie van Suid-Afrikaanse wyne vir die Sweedse mark as wynaankoper vir die Sweedse Alkohol Handelsmonopolie, Systembolaget. Saam met hulle is dr Rowald Hepp (Duitsland), wyndirekteur vir die Schloss Vollrads Wynlandgoed in Rheingau; Janna Rijpma Meppelink, geëerde wynskrywer van Nederland, asook Sarah A McCleery, gerespekteerde vryskutwynskrywer van die Verenigde Koninkryk. Die Veritas-toekennings wat deur die Suid- Afrikaanse Nasionale Wynskou Vereniging (SANW) aangebied word, word beskou as die land se mees gesaghebbende wynkompetisie. Derhalwe is die Veritas-embleem wat ná die aankondiging op die wenwyne pryk, ’n gesogte teken van uitstaande kwaliteit vir wynmakers, wyn connoisseurs sowel as wynliefhebbers. Die kompetisie het oor die jare veel bygedra tot die bevordering van Suid-Afrika se reputasie as een van die wêreld se beste wynproduserende streke en die beoordeling demonstreer jaarliks Suid-Afrikaanse wynmakers en kelders se vermoë om uitstaande wyne te produseer. Die wenners van die 2008 Veritas dubbelgoud en goue medaljes word tydens ’n glansryke dinee, geborg deur Agri-Expo, op 11 Oktober by die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) aangekondig.
More
News
|