Kitsbedrieërs bedrywig
2008-09-25
DIEFSTAL by OTM’s is steeds volop, veral in Wellington. Onlangs het verskeie mense slagoffers geword van hierdie verneukspul. Boewe slaan meestal na-ure toe wanneer mense by kitsbanke gaan geld trek. Wanneer niks vermoedende slagoffers hul kaarte in die OTM druk, en die PIN-nommer, sit die kaart vas in die masjien. Die rede hiervoor is dat die skelms ’n dubbel gevoude stuk plastiek in die masjien se gleuf druk wat nie sigbaar is nie. Een van die bedrieërs slaag ook daarin om oor die slagoffer se skouer te leun wanneer die PIN-nommer gedruk word. Terwyl die slagoffer dan daar staan en kopkrap, kom ’n goedgeklede swartman skielik te voorskyn, kamstig om te help. Intussen sluip nog ’n persoon nader en trek eenvoudig die stuk plastiek saam met die kaart uit die gleuf. Nou het die boewe beide die kaart en die eienaar se PIN-nommer. OTM-bedrieërs het nou ook tegnologies bevoeg geraak en besit toestelle wat gebruik word om ’n bankkaart deur te trek, om al die kaart se inligting te lees. Slagoffers word uit hul kaarte gekul en net so vinnig kry hulle dit terug. Maar al hul besonderhede is nou in hierdie toestel gestoor en ’n duplikaatkaart word gemaak om toegang tot die persoon se swaarverdiende geld te verkry. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat al is kitsbanke juis daar om na ure maklik kontant te trek, het dit nou ook ’n risiko geword. “Waar moontlik moet geld nie na ure getrek word nie, en ook nooit op afgesonderde plekke nie. Indien hulle genoodsaak word om geld te trek, moet hulle ’n metgesel by hulle hê. “Die geheim van OTM-bedrog is dat boewe daarin slaag om jou aandag af te trek met allerhande praatjies, en as jy weer kyk is jou kaart weg, en binnekort ’n paar duisend rand ook. “As daar op enige stadium twyfel is oor veiligheid, moet die transaksie eenvoudig net gekanselleer word.” Die polisie maan ook die publiek om enige misdrywe by kitsbanke aan hulle te rapporteer. * The public is being warned to be very careful when using ATMs, because of fraudsters.
More
News
|