Vyf vas ná skool-inbraak
2008-09-25
Lise Beyers
VYF mans is verlede week in hegtenis geneem in verband met ’n inbraak by Magnolia Primêre Skool. Hierdie skool het onlangs weereens deurgeloop, toe diewe chaos gesaai het in die administratiewe gebou. Voorheen is koperpype gesteel waarna hierdie skoolgebou onder water beland het. Nog voordat dié skade herstel kon word, is daar weer ingebreek, maar dié keer is elektroniese toerusting soos ’n televisie, mikrogolfoond en selfs ’n wasmasjien gesteel. Dieselfde dag wat die inbraak ontdek is, is die wasmasjien en goedere van die snoepwinkel in die Kingston Town plakkerskamp, wat op die skool se drumpel lê, gevind. Lede van die Paarl-Oos polisie se speurtak het nog leidrade ontvang wat noukeurig opgevolg is. Dit het hul spoor gelei na Groenheuwel waar drie verdagtes in hegtenis geneem is, en na ondervraging is nog twee mans vasgetrek. Verdere inligting het vir hulle in die rigting van Eersterivier gelei, na ’n private woning waar die mikrogolfoond en televisie gevind is wat by die skool gesteel is. Gerhard Jeftha (24), Jake Jeftha (28), Justin Engelbrecht (28), Shaun September (27) en Ricardo Moses (26) is in hegtenis geneem. Albei Jeftha’s en Moses het in die Paarl Landdroshof skuldig gepleit en ’n opgeskorte vonnis ontvang. Die ander twee verdagtes, Engelbrecht (Die Brak) en September (Honger) bly in aanhouding. ’n Woordvoerder van die polisie, insp Diana Fransman, het gesê dat hierdie suksesvolle ondersoekwerk van die polisie ’n waarskuwing moet wees vir diewe. “Ons gaan alle leidrade ten sterkste opvolg en is vasbeslote om ’n einde te bring aan misdaad wat hierdie gebied teister.” * Five men have been arrested for a burglary at a school in Paarl East.
More
News
|