Angswekkende rit
2008-09-25
Lise Beyers
’n PLAASLIKE man het ’n angswekkend rit op die N1 gehad, toe hy oënskynlik deur ’n wolf in skaapklere agtervolg is. Bernard Bailey, seun van voormalige Drakenstein Burgemeester, Herman Bailey, het een aand verlede week ná ’n vergadering in die Kaap teruggery na Wellington toe. Bailey vertel dat in die omgewing van Klapmuts het ’n polisievoertuig kort agter hom begin ry met sy blou ligte wat flits. “Die wit Mazda het inderdaad na ’n polisiemotor gelyk, en dit het ook die polisiekenteken vooraan gehad. Maar ek het dadelik onraad vermoed, want ek weet dat ek geen wette oortree het nie, en dat daar niks met my viertrekvoertuig skort nie. “Die motor het baie naby aan my gery, en as ek van bane gewissel het, het hy agter my gebly. “Ek het al verskeie kere gehoor van mense wat aangeval word deur boewe wat hulself voordoen as polisiebeamptes, en ek was nie bereid om een van hierdie slagoffers te word nie.” So het Bailey kop gehou en uiteindelik by die Hoofstraat-afrit na die Paarl afgedraai. “Toe ek by die aansluiting na Hoofstraat stilhou, het die kamstige polisieman op ’n luidspreker vir my gesê om stil te hou. Maar die aksent was dié van ’n Afrikaan wat nie van hierdie land is nie. “Ek het dadelik weggery en hy was steeds op my. Ek het besef dat daar net een manier was om my veiligheid te verseker, en dit was om na die Paarl polisiestasie te ry. “Indien dit wel ’n werklike polisiebeampte was wat my agtervolg het, sou ek by die stasie verduidelik hoekom ek nie stilgehou het nie.” Maar toe Bailey voor die stasie in die Bergrivier Boulevard stilhou, het die motor agter hom spore gemaak. “Dit is toe dat ek begin bewe het - toe ek besef het dat dié persoon besig was met skelmstreke. Ek wil nie eens dink wat sou gebeur het as ek nie kop gehou het nie.” Bailey het wel ’n klag gelê by die polisiestasie. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat dit ongelukkig nou so is dat ons in ’n tyd lewe wanneer niemand vertrou kan word nie: “Ons kan verstaan hoekom Bailey so opgetree het, en op die ou einde was sy vrese bevestig. “Ongelukkig is daar min leidrade vir die polisie om op te volg, want ons het geen registrasienommer nie. * ’n Kaapse polisiereservis is verlede jaar aangekla van ontvoering en verkragting, nadat hy ’n voertuig van die pad afgetrek het. Hy het die vier vrouens daarin beveel om in sy wit BMW, met flikkerende blou ligte, te klim. In plaas daarvan om hulle na die naaste polisiekantoor te neem, het hy met hulle na Dutoitskloof gery, waar hy na bewering drie van die vroue verkrag het. * A local man had a harrowing experience, when he was chased on the N1 by a police impersonator.
More
News
|