Dorp in rou ná gru-ongeluk
2008-09-25
Lise Beyers
’n GRU-ONGELUK het die afgelope naweek ’n dorp in rou gelaat, toe drie mense gesterf het en nog ses beseer is. Die voorval het Saterdagoggend omstreeks 02:30 plaasgevind op die R45 in Groot Drakenstein. Die een voertuig, ’n swart VW Golf wat gelaai was met ses mense, was onderweg na die Meerlust dansklub. ’n Ander voertuig, ’n blou Toyota Conquest was toevallig van die danssaal af op pad terug na Franschhoek. Een van die bestuurders het vermoedelik om ’n draai beheer verloor oor sy voertuig en kopaan-kop teen die ander motor gebots. Die bestuurder van die Golf, Tolla Mulder, en ’n passasier, Ebonisa Kayser, is op slag dood. Nog insittendes, Buchana Bell (21), Esmarelda Smith, Shaun Davids en Henwill Davids (23) is beseer. Henwill is in die intensiewe sorgeenheid van Tygerberg Hospitaal, en daar word gevrees dat hy verlam is. Die bestuurder van die Toyota, Noël Lapperts (41), is ook op slag dood. Emmie Fredricks en Natasha Botha was saam met hom in die voertuig. Botha is tans in ’n kritieke toestand in Tygerberg Hospitaal en Emmie is blind gelaat weens glasskerwe wat haar oë binnegedring het. Dit is tans onseker of die skade permanent is. Al die betrokkenes is vriende of familie van mekaar op Franschhoek. Lapperts was getroud met Kayser se tante, en Fredericks en Botha is niggies. Kayser se ma, Merna Davids, het Dinsdag steeds gesteier van skok nadat sy die doodstyding Saterdag ontvang het. “Ebonisa was my enigste dogter, en sy en haar twee kleintjies, Winesha (4) en Noresa (2), het saam met my gewoon in Groendal. “Ons was meer soos susters as ma en dogter. Maar ek het darem haar twee dogtertjies om vir my vir altyd aan haar te herinner.” Kayser word Saterdag om 09:30 vanuit Skoolstraat, Groendal, begrawe, en daarna om 10:30 by die Gemeenskapsaal. Mulder het by ’n staalmaatskappy op Franschhoek gewerk en saam met sy ma Marietjie en suster Jean-Marie (12) in Maasdorp gewoon. Hy is gister begrawe. Lapperts het vir ’n konstruksiemaatskappy in Blackheath gewerk. Hy word oorleef deur sy vrou, Lydia, en driejarige seuntjie, Antonio. Sy begrafnis vind Saterdag om 07:30 by hul huis in Eerstelaan, La Motte Bosbou, plaas, en daarna by die Nuwe Apostoliese Kerk. Die ma van Buchana Bell, wat ’n bekkenbreuk opgedoen het in die ongeluk, het gesê dat sy nog altyd vir die jongmense se veiligheid gevrees het. “Hulle is maar nog jonk en wil graag uitgaan. Maar hier in Franschhoek is daar geen plek vir hulle om sosiaal te verkeer nie. “Ek het al nagte lank uit vrees vir hul lewens wakker gelê.” Verskeie gedenkdienste is die afgelope week in Franschhoek gehou vir beide die slagoffers en hul families. * Three people from Franschhoek have died in a car crash, leaving another six injured.
More
News
|