Nou wag die Streeptruie
2008-09-25
Jaco van Wyk
DIE Kavaliers kan net hulself blameer aangesien hulle Saterdag se Curriebekerwedstryd, teen ’n sterk trop Leeus, deur hul vingers laat glip het. Ver van hul beste is Boland nog beslis, met die Transvalers wat uiteindelik met 31-10 die septer geswaai het. Dit wou in die eerste paar minute, op Boland-stadion, voorkom of dit weer eens ’n lang middag vir die Bolandse ondersteuners sou wees toe die Leeus se Trompie Nonthsinga oor die doellyn gewals het vir die eerste van sy span se vier drieë. Met ’n goeie eerste helfte drie deur die agsteman Dawid Hendriks, en ’n drie vroeg in die tweede helfte deur die vleuel Deon Scholtz, was Boland tot ten minste die 49ste minuut nog stewig in die prentjie, en die wedstryd steeds in die weegskaal. Met die telling op 10-17 in die guns van die besoekers het die Leeus egter gaan druk om die telling 24-10 te maak. Die Kavaliers het hul gaste egter nooit toegelaat om weg te hardloop met die wedstryd nie en die doodskoot is werklik eers in die laaste minuut gelewer toe die Leeus se Ross Wheeler ’n bonuspuntdrie gaan druk het. Volgens die Kavaliers se spanbestuurder, Denver Pienaar, het sy span veel beter vertoon as verlede naweek, maar is daar steeds harde werk wat voorlê. “Ons was veel sterker op die aanval, asook op die verdediging, maar ons sal nooit tevrede wees indien ons nie wen nie. Ons is nog nie waar ons wil wees nie.” Alhoewel die tuisspan voorlangs meestal gekreun het - teen een van die kompetisie se taaiste skrums - het sekere individue steeds tekens van belofte getoon. Janro van Niekerk het in sy vyftigste wedstryd vir Boland stewig gestaan in die skrums, met Zolani Mofu wat hard gewerk het om die bobaas oopkant flank van die Leeus, Cobus Grobbelaar, in toom te hou. “Hulle het ons egter ore aangesit by die afbreekpunte en dit is een van die areas waaraan ons sal moet skaaf voor Saterdag se wedstryd teen WP.” Vir die verloorspan was die skrumskakel, Marnus Hugo, die beste speler, met Piet van Zyl en Elgar Watts wat ook gevaarlik was op die aanval. Van Zyl het Saterdag sy 150ste verskyning vir die Kavaliers gemaak. Eerskomende Saterdag huisves Boland die Westelike Provinsie. Volgens Pienaar sal die Kapenaars met ’n sterk aanslag kom aangesien hulle steeds meeding om ’n plek in die halfeindronde van die kompetisie. Kaartjies vir Saterdag se wedstryd is vooraf beskikbaar by Pêrel Sport en Boland Rugby kantore. Kaartjies vir die hoofpawiljoen beloop R50. Toegang is R30 vir volwassenes en R10 vir kinders. Die wedstryd begin 15:00
More
News
|