HIERMEE versoek ek al die middedorp-inwoners van die Paarl asook die ander mense wat gebruik maak van die middedorp om nie die bergies en moeilikheidmakers te betaal of kos te gee nie.
Hulle hoort nie in die middedorp nie, maar hang daar rond om op ander mense se goedhartigheid te teer. En as hulle nie iets van iemand kan kry nie dan breek hulle in jou motor in.
Daar is wel mense in die middedorp wat mens nie moet miskyk nie. Die gestremdes wat nie meer kan werk nie. As jy uit goedhartigheid iemand wil help, help die man in sy rolstoel, nie die skollies wat nog kan werk en hulleself kan help nie.
Hoe minder die leeglêers uit ander se beursies kry, hoe minder sal hulle daar ronddwaal en breek en bevuil. Die straatkinders maak net nie gebruik van hulle nie, want jou beursie vereis nie dat hy moet skool toe gaan nie. Knyp jou beursie toe vir die straatkind met die hartseer oë, dan sal hy teruggaan na die mense wat sal sorg dat hy in die skool kom en dat hy kos het. Die skollies sal my dan nie meer agtuur op ’n Sondag pla vir ’n stukkie brood nie.
As jy wil gee, gee dit vir die Hospice. Hulle is spesifiek daar om na die mense om te sien.
Drankwinkeleienaars, ek weet julle maak julle brood en botter deur goedkoop drank en papsakke aan die skollies te verkoop. Onthou net, julle het amper die grootste aandeel aan ons vuil dorp.
Ontevrede