Historiese baken in die mark
2008-10-02
EEN van die Paarl se interessante en unieke eiendomme, Meulstraat 28 (die huidige Oranje Meul kunsgalery en restaurant), is te koop. Die eiendom is geleë in die historiese gedeelte van Paarl-sentraal, bokant die Hoofstraat. Dit word deur die alleenagente Pam Golding Paarl teen R3 750 000 bemark. Die huis beslaan 375 vk meter op ’n erf van 803 vk meter. Die eiendom is noukeurig deur die huidige eienaars gerestoureer in samewerking met Tony Craig en Dekker Bester Argitekte, asook die estetiese komitee van die Paarl. Daar is met groot sukses geëksperimenteer met perskepitvloere soortgelyk aan dié van Klein Zoar, tuiste van Wolraad Woltemade in Milnerton. Die plafonne is van Amerikaanse greinhout en verskeie deurrame, deure en kaggels is op antieke veilings opgeraap en kunstig in die huis geïntegreer. Daar is vier ruim onthaalareas wat bestaan uit ’n groot eetkamergedeelte met ’n kaggel aangrensend aan die kombuis, ’n aparte leefarea by die ingangsportaal en ’n pragtige teetuinarea versier met handgemaakte tuinteëls en perskepitte. Buite vind jy ook ’n oorloopswembad met ’n borrelende waterval. Daar is vier slaapkamers en vier badkamers waarvan die hoofslaapkamer en-suite is. Dié badkamer is uiters uniek en keurig ontwerp met sinkplaat teen die mure en ’n pasgemaakte “cowboy” balie-bad wat in die Paarl gemaak is. Die kamers is ruim en sonnig met ’n goeie vloei na die res van die huis. Om alles te kroon is daar ’n massiewe soldergedeelte met handgemaakte wenteltrappe aan beide kante. Die solderverdieping het ’n klankdigte vloer en twee industriële lugversorgers en is ingerig vir ’n kunsgalery. Daar is parkering vir twee voertuie voor die huis in Meulstraat en parkering vir ’n verdere vier voertuie in die motorhuis in Oranjestraat. Straatparkering is ook volop. Die eienaars bewoon die eiendom, maar bedryf ook ’n kunsgalery sowel as ’n boetiek- restaurant op die perseel. Die eiendom is enkel residensieel gesoneer met die moontlikheid van hersonering of vergunningsgebruik. Die deel van die gebou in Oranjestraat wat nou as motorhuis benut word, was in 1878 die drukkersateljee waar die eerste Afrikaanse koerant van die Genootskap van die Regte Afrikaners, Di Patriot, gedruk is. Die eerste 12 maanduitgawes van Di Patriot is in 1876 deur die firma Smuts & Hofmeyr, Kasteelstraat 11, Kaapstad gedruk. In 1878 is die drukpers verskuif na Meulstraat 28, waar die drukwerk voortgesit is. Kontak Comine Marais by 082 823 8639 of Renda Walters by 082 223 8276 of Pam Golding se kantoor by 021-871-1480 vir navrae.
More
News
|