Terblanche trap al weer klei
2008-10-02
Lise Beyers
INSLEEPDIENSBAAS, Jacques Terblanche, het onlangs agter tralies beland vir die besit van ’n gesteelde polisieradio. Die betrokke radio is gesteel vanuit ’n polisievoertuig op ’n ongelukstoneel in Stellenbosch in 2003. Nadat die ondersoek na ’n doodloopstraat gelei het, het dit onlangs weer opgevlam toe nuwe inligting ontvang is. Dit het die polisie gelei na Jacques Terblanche se onderneming, Boland Towing, in Ben Bernhard-landgoed, SuiderPaarl. Een van Terblanche se werkers is met die radio in haar besit gevind, met Terblanche byderhand. Terblanche en sy vrou, Bernadine, en werknemer Veliswa Sidubedube is op die toneel in hegtenis geneem. Terblanche se maatskappy is reeds jare lank by die hof in en uit met soortgelyke klagtes, asook dié van aanranding. Een van sy bestuurders, Dewald Esterhuizen, is verlede jaar ook op heterdaad betrap met ’n gesteelde polisieradio. Hy is in die Paarl Landdroshof hieraan skuldig bevind en met R1500 beboet. Terblanche is verlede jaar ook beboet, nadat hy skuldig bevind is van aanranding op ’n werknemer van ’n opposisie-insleepmaatskappy. Hierdie berugte sakeman het ook verlede jaar ’n bloutjie geloop met SATRA (SA Towing and Recovery Association). Dit volg nadat Terblanche regstappe teen dié organisasie gedoen het, nadat SATRA aangekondig het dat hy as lid geskors is. Die aansoek is van die hand gewys, en Terblanche is gelaat met die regskoste. Hy, sy vrou en Sidubedube verskyn weer op 16 Oktober in die Paarl Landdroshof. * The owner of Boland Towing was arrested for the possession of a stolen police radio.
More
News
|