Gort gaar oor skrootdiewe by skool
2008-10-02
DIE gort is behoorlik gaar, nadat nog ’n skool deurgeloop het onder diewe. Die voorman van Dalweide Primêr in Groenheuwel, Cornelius Fisher, is Maandagoggend douvoordag wakker gebel deur ’n sekuriteitsmaatskappy wat hom in kennis gestel het dat daar ingebreek is by dié skool. Met sy aankoms by Dalweide was die skoolsaal onder water. Diewe het koperkrane en -pype vanuit een van die meisieskleedkamers langs die saal geruk. In die proses is toiletbakke gebreek, asook ’n gedeelte van die dak. Hierna het hulle ’n sekuriteitshek uit die houtkosyn gebreek om toegang te verkry tot die personeelkamer se kombuis. Hier was hulle oënskynlik besig om ’n munisipale drom vol elektriese kombuistoerusting te laai, toe hulle verras is en die toneel inderhaas verlaat het. “Genoeg is genoeg,” sê ’n woedende skoolhoof, Ernest Johannes. “Nie net kos dit vir ons duisende rande elke keer as daar ingebreek word nie, maar dit stel ’n slegte voorbeeld vir ons kinders. “Dit is nie die eerste keer wat daar hier ingebreek word nie. Ons moes al ons staalslotte met plastiekslotte vervang, want dié word keer op keer gesteel. “Die skade wat aangerig word moet ons self regmaak met ons hardverdiende skoolfondse. En weens knaende diefstalle, moet ons aanmekaar ons sekuriteit opknap, en ook self daarvoor betaal.” Maar Johannes gaan nie lê nie. Hy gaan nou werk maak daarvan om ’n petisie op te stel teen skroothandelaars. “As daar nie ’n mark vir hierdie gesteelde goedere was nie, sou dit nie gesteel word nie. “Ek het reeds die ondersteuning van die gemeenskap van Groenheuwel en hulle het al dikwels hulle ontevredenheid uitgespreek oor die skroothandelaars. “Ek nooi alle lede van die publiek om op te staan teen hierdie handelaars, sodat ons hulle kan toe maak. “Hier is nou ook ’n nuwe handelaar in Daljosafat, langs Paarl Staal, en ons het inligting ontvang dat baie gesteelde skroot daar verkoop word.” Johannes en Fisher sal nou die res van die skoolvakansie moet afstaan om die skade te herstel voordat die leerders terugkeer. Die polisie maan die publiek om die naaste polisiestasie te skakel, indien hulle verdagte persone oplet wat munisipale dromme misbruik om gesteelde goedere te vervoer. * Another school has become the victim of burglars stealing metal objects.
More
News
|