Windmeul haal wind uit Evergreens se seile
2008-10-02
WINDMEUL UNITED het Saterdag ’n modderbad-speelveld oorkom om hul jaarlikse derbywedstryd teen Evergreens met 18-16 te wen. Die nat speelveld het egter nie die toeskouers van Windmeul Primêr se skoolveld weggehou nie en ’n titaniese stryd was uiteindelik die kort en lank van ’n onvergeetlike ontmoeting tussen die aartsvyande. Die stryd het voorlangs begin met Evergreens wat van meet af in beheer was. Ondanks aanhoudende aanvalle deur die tuisspan kon Windmeul net nie deur Evergreens se verdediging boor nie. Dit was eerder Evergreens se sterk voorspelers wat, teen die verloop van die spel, goed gebruik gemaak het van ’n vyf meter skrum om die eerste punte aan te teken met ’n vyfpunter. Sodoende het die spanne rustyd binnegegaan met die telling op 5-0 vir Evergreens. Met die tweede helfte onderweg, het Windmeul eerste getref ná hulle ’n aanval geloods het vanuit hul eie kwartgebied. Die voor-en agterspelers het mekaar goed ondersteun op pad na die doellyn, met Marius Draai wat agter die kalklyn gaan besoek aflê het. Jannie Williams het Draai se drie verdoel om sy span vir die eerste keer in die wedstryd te laat voorloop. Windmeul het hierna twee strafskoppe afgestaan wat verdoel is deur Jeremy Koukom. Williams het egter teruggeantwoord deur twee strafdoele van sy eie oor te klits om die telling 13-11 te maak. Met hardlooprugby uit die boonste rakke het Windmeul weereens bewys waarom hulle die Paarl kampioene is met ’n puik drie deur Jaco Simonse (telling 18-11). Evergreens het egter nie gaan lê nie en wéér teruggeantwoord met ’n onverdoelde drie. Dit was egter te laat vir die besoekers met Windmeul wat welverdiend die derby-trofee by hul liga-trofee kon voeg. Wilfred Solomons is na afloop van die derby aangewys as speler van die wedstryd. Ander uitblinkers was Francois Floris, Draai en Shane Simonse. Evergreens se tweede span het hul wedstryd met 12-0 gewen. Windmeul se derde span het ook hul wedstryd gewen (15-7). Met Windmeul se o.16’s en o.14’s wat hul teenstanders afgeransel het met 25-0 en 50-0, onderskeidelik, wil dit voorkom of die wenspan oor baie diepte in hul juniors beskik.
More
News
|