Tier in Kobra-vel
2008-10-02
Jaco van Wyk
BRENDON ADAMS het uiteindelik, ná nege jaar se skitterspel vir die krieketklub Young Peoples, sy tiervel geskil, en pronk nou met trots in die kleure van die Cape Cobras. Dié linkskolwer, wat ook weet hoe om amok te saai met sy gevaarlike draaiballe, het in 2001 gematrikuleer aan Hoër Jongenskool. Hy speel reeds van vyftienjarige ouderdom vir Young Peoples - ook bekend as die Tiere. Adams (24) is egter nie ongewoon aan topklaskrieket nie, aangesien hy in die 2005/6 seisoen gekontrakteer was by die Lions. “Al het ek net in drie wedstryde vir die Lions gespeel en meestal as twaalfde man diens gedoen, was die ervaring wat ek opgedoen het van onskatbare waarde,” sê Adams. Hy het ook ’n maand gelede van Engeland teruggekeer waar hy vir twee maande klubkrieket gespeel het vir Stockton krieketklub. Adams het egter die Cobra keurders se oog gevang toe hy verlede jaar, as kaptein van Boland Krieket, uitgemunt het met ’n kolfgemiddelde van 55 lopies per wedstryd. Na afloop van dié seisoen was Adams een van die nominasies vir amateurkrieketspeler van die jaar. Volgens Adams is die nasionale krieketspan, die Proteas, nog nie in sy visier nie. “Om vir die Proteas gekies te word is nog ’n ver trappie en ek wil eers net dié kans aangryp om meer speelkans vir die Cobras te kry. Ek wil myself vestig in die Cobras se beginspan.” Adams was nog altyd hoopvol om die hoogste vlak op die krieketveld te bereik, maar weet dat sy studies ook baie belangrik is. Hy studeer tussendeur B.Com. finansiële bestuur deur Unisa. “Ek het ook onlangs begin gholf speel, maar dit gaan nog nie so great nie,” skerts Adams. Aangesien krieket vir die Boland-span ’n amateursport is, is Adams baie dankbaar vir die jarelange bystand vanaf sy ouers. “Baie ouens gee op omdat hulle nie professioneel kan speel nie. Ek is baie bevoorreg dat my ouers my al die jare ondersteun het, veral terwyl ek amateurkrieket gespeel het.” Nog iemand vir wie Adams die wêreld se respek het is Salieg Nackerdien, afrigter van Boland se krieketspan. “Hy het net so baie ervaring en die kennis wat hy oordra.”
More
News
|