Vyftienjarige verdink van tweede moord
2008-10-02
Lise Beyers
PLAASBEWONERS van die Paardeberg is die afgelope week woedend, nadat ’n vyftienjarige seun wat verlede jaar skuldig bevind is van die moord op ’n kind, weer verbind word met ’n moord. Verlede jaar is Samuel Mars (14) van Nieuwedrift Primêr op ’n skoolbus deur ’n leerder van ’n ander skool met ’n mes doodgesteek. Die veertienjarige verdagte is hierna uit sy skool geskors en gevonnis tot korrektiewe toesig. Volgens inwoners van Leeukuil-plaas het hierdie seun egter almal om hom se lewens versuur. Dit het verlede week tot uitbarsting gekom, toe hierdie seun na bewering nog ’n plaaswerker, Aubrey Krieling (35), met ’n mes doodgesteek het. Magrieta Engelbrecht, Aubrey se vrou, het vertel dat die seun verlede Donderdagaand sonder rede hul dogter Audrey (11) geskop het. “Aubrey was baie ongelukkig hieroor en het die klong se pa gekonfronteer. Ons het baie probleme met hom, want hy luister net nie na grootmense nie. Nie net baklei hy met ons kinders nie, maar ook met die volwassenes.” Volgens ooggetuies het die seun later by sy ouerhuis uitgekom met ’n mes. Krieling is met hierdie mes aangeval en doodgesteek. Nog ’n boorling van Leeukuil, Claudine van Wyk, vertel dat die seun ’n moeilikheidmaker is. “Ons het nooit rus gehad met hom nie. Hy is bakleierig en het selfs die groot mans getakel. Dit wys nou net dat hy verlede jaar reeds toegesluit moes gewees het toe hy vir klein Samuel Mars doodgemaak het. “Nou is die enigste broodwinner van ’n gesin dood.” Krieling word Saterdag om 09:00 op die plaas begrawe. * A boy (15) is facing a second murder charge following the death of a school boy last year.
More
News
|