Kleitrappery in modderbad
2008-10-02
Jaco van Wyk
ALHOEWEL die Kavaliers Saterdag teen die Westelike Provinsie gegly het op die Bolandse modderbad in Wellington, het die manne in swart vir minstens die eerste veertig minute van die wedstryd mooi kop bo water gehou. Boland het uiteindelik met 7-23 vasgeval nadat hulle al wat ’n toeskouer was, verras het deur teen rustyd die voorlopers te wees met 7-6. Terwyl die Kavaliers nie heeltemal verdrink het nie, was dit eerder WP se moed wat gesink het, aangesien die Kapenaars se onvermoë om vier drieë te druk moontlik kan beteken dat hulle nie ’n plek in die top vier van die Curriebeker- kompetisie gaan haal nie. Die Kavaliers het vir eer gespeel, terwyl WP vir ’n broodnodige wen, en vier drieë vir ’n bonuspunt, gespeel het. Met nege internasionale spelers in die beginspan - waarvan agt Springbokke en een die Fidjiaanse reus Sireli Naqelevuki, het ’n veel sterker WP-span werklik ’n powere vertoning teen die wynboere gelewer. ’n Span speel egter net so goed soos hul teenstanders hul toelaat om te speel, en vir Boland se puik verdediging verdien hulle ’n klop op die skouer. Gepraat van die Fidjiaanse reus - ondanks ’n goeie wedstryd wat twee drieë ingesluit het, was dit Naqelevuki se aanslaan op die doellyn wat die besoekers van ’n bonuspunt weerhou het. Naqelavuki het in die eerste helfte ’n bal reg voor die doellyn opgetel, sonder ’n Kavalier in sig, en op skouspelagtige wyse deur die lug probeer duik om sy drie te druk. In dieselfde beweging het die bal koers gesoek uit Naqelavuki se hande. Die drie van die dag was sekerlik die drie van Boland se Danwell Demas toe hy, in die doodsnikke van die eerste helfte, ’n puik skoppie deur Piet van Zyl bemeester het om sy span te laat voorloop. Justin Peach het dié drie verdoel. In die tweede helfte het WP beter gevaar, maar die Kapenaars se rugby het steeds niemand se hare teruggeblaas nie. Met Naqelevuki se twee drieë en een drie deur Luke Watson, asook ’n geel kaart aan die Kavalier vleuel Deon Scholtz, kon WP darem die veld as oorwinnaars verlaat. Saterdag se wedstryd tussen die Leeus en WP, op Nuweland, beloof om ’n breker te wees. Beide spanne baklei om ’n plek in die top vier.
More
News
|