Olyfolies onder die vergrootglas
2008-10-02
LIEFHEBBERS van die groot verskeidenheid plaaslike olyfprodukte wat deesdae in Suid-Afrika beskikbaar is, sal eersdaags presies weet watter wenprodukte hulle in hul inkopiemandjies moet laai. Die beoordeling van die jaarlikse SA Olyftoekennings is verlede week in die Paarl gedoen. Die kompetisie, wat vanjaar vir die derde keer aangebied word, groei met rasse skrede en die bykans 200% groei in inskrywings vir die 2008 toekennings, het alle verwagtinge oortref. ’n Opwindende nuwe kategorie vir gedroogte olywe gee vanjaar ’n vars dimensie aan die kompetisie. Die wortel voor die deelnemers se neus is nie slegs die twee gesogte trofeë vir onderskeidelik die beste ekstra suiwer olyfolie en die beste tafelolywe nie, maar ook verskeie goue en silwer medaljes vir die toppresteerders. Die SA Olyfpresteerder van die Jaar word toegeken aan ’n kandidaat uit enige segment van die bedryf, wat ’n beduidende bydrae gelewer het tot die ontwikkeling en groei van die plaaslike olyfbedryf. “Dit wil voorkom asof die 2008-olies sagter as gewoonlik is as gevolg van die nat herfs wat ons beleef het,” meen Linda Costa, bedryfskundige en sameroeper van dié toekennings. “Ons is bevoorreg om olyfolies van wêreldgehalte te geniet - en dit teen ’n fraksie van die prys wat ons vir soortgelyke kwaliteit in enige ander land sou opdok. Ons besondere ekstra suiwer olyfolies is ’n besliste gunsteling by olyfolie-smulpape regoor die wêreld,” sê sy. Die toppresteerders sal moet asem ophou tot op 8 Oktober vir die toekennings.
More
News
|