EK verwys na die skrywe in die Paarl Post van 2 Oktober, “Ek pak ook.”
Ons het reeds meer as twee jaar gelede Suid-Afrika verlaat nadat Regstellende Aksie die grootste motivering was vir my, naas die misdaad en totale wanbestuur van Suid-Afrika deur die regering.
Vandag kyk ek terug en dank die Vader vir die besluit en Sy hulp met die proses. Ons het vinnig aangepas in ons nuwe “Vaderland” en ek moet erken my nuwe landsburgers het my meer as welkom laat voel.
Ek is tereg daarop gewys in my eerste maand om nie meer van ons en hulle/julle te praat nie, maar van ONS. Ek is nou deel van my nuwe landsburgers en hoe gouer jy jouself as deel van hul sien, hoe beter en makliker jou proses van emigrasie.
Alles hang van jouself af en hoe maklik jy kan aanpas en die nuwe verandering aanvaar en geleenthede aangryp.
SA is ’n baie mooi land, niemand kan daaroor verskil, nie. Dié wat daaroor verskil, het suur druiwe en sal nêrens tevrede wees nie. Die mooi kan ongelukkig nie opmaak vir die verval in die kwaliteit van die lewe in SA nie.
Hoe gouer SA se regering gelyke geleenthede vir almal gee en wegdoen moet AA, BEE en EE hoe beter vir die land.
My laaste gedagte aan dié wat wil emigreer: jul woon in elk geval vir die laaste 14 jaar in ’n vreemde land, dalk het dit tyd geword om jou erfenis in die buiteland te gaan opeis as jy nog kan.
Trots Ozzie