Bel Canto Koor vier 45ste bestaansjaar
2008-10-09
DIE feeskonserte van die Paarl Bel Cantokoor, waaraan 12 kore sal deelneem, vind plaas Sondag 12 Oktober om 18:00 en Sondag 19 Oktober om 10:00 met sangdienste as danksegging vir hul 45ste suksesvolle jaar. Alle oud-koorlede word uitgenooi na die konserte in die Bethel Congregational Kerk (toegang R20). David Samaai het die Paarl Bel Cantokoor in 1963 gestig om koorsang na ’n breër vlak as slegs gewyde musiek uit te brei. Die koor het so ver as Graaff-Reinet, Oudtshoorn, Mosselbaai, Upington, Springbok en Uitenhage opgetree. Die koor het Italiaans bemeester deur betrokkenheid by die beroemde Eoan Groep van Kaapstad wat die koor genooi het om saam met hulle in operas op te tree. So het die koor daarin geslaag om Verdi se bekende opera “La Traviata” na die Paarl te bring. Opvoerings van hierdie opera oor twee aande met ’n volle simfonie-orkes onder leiding van dr Joseph Manca in die gemeenskapsaal was ’n onvergeetlike gebeurtenis. As gevolg van die koor se deelname aan die destydse Protea radioprogram wat elke Sondagoggend uitgesaai was, het die koor ook landswyd bekend geword. Na 45 jaar van bestaan, is die koor nog steeds gereeld in kontak met die gemeenskap deur sy sangdienste by kerke, besoeke aan die hospitale net voor Kersfees om pasiënte op te beur en die jaarlikse “Carols by Candlelight”. Vir meer inligting, skakel David Samaai by 021-862-1917.
More
News
|