Karoo besing in Bôrdienghuis
2008-10-09
BEIDE Gert Vlok Nel en Antoinette Pienaar van die Beaufort-Wes omgewing is onderskeidelik vanaand en Vrydag 17 Oktober om 20:00 by die Breytenbachsentrum se nuwe teater, Die Bôrdienghuis, op Wellington te sien. Gert Vlok Nel sing in hierdie produksie op 9 Oktober van sy gunstelingliedjies. Nel kom onder Suid-Afrikaners se aandag in 1993 met sy debuutbundel, om te lewe is onnatuurlik, waarvoor hy ook die gesogte Ingrid Jonker-prys vir uitstaande debuutwerk wen. Die Kaalkop Waarheid tree saam met Gert op in dié vertoning. Die Kaalkop Waarheid (DKW) se splinternuwe CD, Woestyn se Rivier, het pas verskyn. * Antoinette Pienaar stel haar nuwe boek, Kruidjie roer my, saam met haar Griekwaleermeester, oom Johannes Willemse, by die Breytenbach-sentrum bekend. Ineengeweef met Antoinette se vertelling behandel sy talle siektetoestande, gee die kruievoorskrifte en aanwendingsmetodes, verryk met anekdotes en die ruim wysheid wat Willemse oor sewe jaar se leerlingskap in die veld aan haar oorgedra het. Dit het ’n boek geword wat oor ’n gesonde lewenswyse en ’n algemene positiewe uitkyk op die lewe, deurgaans met kleurfoto’s geïllustreer en met deeglike indekse vir maklike naslaan. Vir verdere navrae en besprekings, skakel 021-873-2786, of stuur ’n e-pos na theokemp@breytenbachsentrum.co.za.
More
News
|