Vrae ná kaping
2008-10-09
Lise Beyers
’n KAPING in Wellington het die polisie met meer vrae as antwoorde gelaat. In die vroeë oggendure van verlede Sondag is ’n jong man van Worcester na bewering gekaap by die verkeerslig op die kruising van Champagnestraat en Piet Retiefstraat. Die voorval het omstreeks 04:00 plaasgevind, en volgens die slagoffer was hy vanaf die dansplek, die Watergat, onderweg huis toe. By die rooi verkeerslig het gewapende mans die deur van sy wit Opel Corsa bakkie oopgeruk en hom gedwing om uit te klim. Hy is beveel om sy beursie, selfoon en sleutels aan hulle te oorhandig. Die mans het hierna in die rigting van die Paarl in sy bakkie weggejaag. Die slagoffer het in die rigting van die middedorp van Wellington gestap, ’n hamburger gekoop by ’n laatnag eetplek, en eers daarna die kaping by die polisiekantoor aangemeld. Woensdag is die bakkie egter teruggevind langs ’n rivier in Berg- en-Dal op Wellington, en dit was duidelik dat die voertuig in ’n ongeluk betrokke was. ’n Hawelose man het ook vorendag gekom met die gekaapte man se selfoon en bakkiesleutels, wat hy na bewering langs die pad gevind het. Die polisie maan die publiek om met hulle in verbinding te tree indien hulle enige inligting oor die kaping of die bakkie beskik. Insp David Manthey kan geskakel word by 021-864-9600.
More
News
|