Smaak van sukses vir Paarl-rugbystreek
2008-10-09
DIE 2008 rugbyseisoen van die Paarl rugbystreek, wat met ’n plaaslike uitkloptoernooi afgesluit was, kan as ’n groot sukses beskou word, en het alle verwagtinge oortref. Die Paarlstreek-konsep word tans deur die WPRFU aan ander streke in die unie as voorbeeld van ’n streek-konsep voorgehou en sodoende word ander streke aangemoedig om soortgelyke streek-konsepte daar te stel. Die WPRFU liga-kompetisie is deur Windmeul United (53) gewen, met Riverstones (48) wat tweede geëindig het. Young Gardens het derde geëindig met 47 punte. Die liga-wenners van al drie divisies is in die laaste kragmeting van die seisoen beslis, met Windmeul United I wat Riverstones I (die wenners van die eerste ronde) in hul agterplaas getroef het om die eerste wenner van die Streek-kompetisie te word. Young Standards (46) het vierde geëindig, net sewe punte agter Windmeul United - ’n goeie aanduiding van die sterk mededinging tussen die deelnemende klubs. In die tweede span-kompetisie het Young Gardens II en Riverstones II sake in die finaal uitgespook. Gardens II (60) se naelskraapse oorwinning oor Young Standards II (3de; 51- punte) in die laaste liga-kragme- ting, het verseker dat Riverstones II (56) in die tweede posisie eindig nadat Riverstones II op hul beurt vir Windmeul United II (40) verslaan het. Die derde span-divisie is ook deur Windmeul United III (51) gewen, met Young Standards III (50) wat tweede geëindig het. Die Paarl-streek kon ook, in samewerking met die WPRFU, sy eie uitklop-kompetisie suksesvol aanbied. Die kompetisie het oor drie Saterdae geskied en het al die spanne ingesluit. Young Standards I het met skitter-rugby die houer van die eerste Paarlstreek Uitklopbeker geword deur Young Gardens I in die finaal te verslaan. Riverstones I het die plaat- afdeling gewen en Violets I die bowl-afdeling. Vir die tweede spanne het Gardens II die uitklop-beker by hul liga-beker gevoeg deur Laer Paarl II in die finaal te klop. Violets II het die plaat gewen en Standards II die bowl. Riverstones III het hul afdeling gewen deur Standards III in die finaal te verslaan, terwyl Violets III die plaat, en Gardens III die bowl verower het. In die junior-afdeling het die o.16-span van Vineyards, Windmeul se o.16’s in die finaal geklop, terwyl Gardens se o.14’s te sterk was vir Allandale se o.14’s. Young Standards se o.12’s het met die louere in hul afdeling weggestap deur met Violets se o.12’s af te reken. In die sewe-aan-’n-kant-toernooi vir junior spanne is Young Gardens se o.12’s, Young Peoples se o.14’s en Violets se o.16’s as die wenners aangewys. Die hoogtepunt van die jaar vir die Paarlstreek, was hul wedstryd teen Helderbergstreek op Nuweland. Die Paarl-streek het ietwat gesukkel in die WPRFU streek-kompe- tisie. Dit was egter hoofsaaklik weens ’n gebrek aan samespel, eerder as talent, want altesaam vyf spelers van die Paarl-streekspan in die finale WP Disa-groep opgeneem. Hulle is Granston Marinus, Heinrich Pretorius, Andrew Jacobs, Brendon van Schoor en Hennie Johnson. Van dié vyf spelers het Marinus en Pretorius die finale Disa-span gehaal, en gehelp dat dié span hul titel suksesvol kon verdedig. Die Paarl-streek kon ook drie Paarl junior streek-spanne kies wat teen City and Suburban op City Park gespeel het, en wat daarna op streekonkoste, en in samewerking met WPRFU, na Nuweland geneem was. Die trots van die Paarl-streek was egter die o.20-span wat onoorwonne in die streekkompetisie vir o.20-spanne geëindig het, en daardeur gewys het dat die talent hier is - dit moet net raakgesien, en reg bestuur word. Die Paarl-streek sal volgende jaar verder uitbrei, met verskeie spanne wat aangedui het dat hulle in die streekspan-konsep belang stel.
More
News
|