Peoples toon veggees
2008-10-09
YOUNG PEOPLES KRIEKETKLUB het hom Sondag goed van sy taak gekwyt in sy opwarmingswedstryd teen ’n sterk Van Der Stel- span op Daljosafat. Die besoekers van Stellenbosch het eerste gekolf en 179/8 behaal in 45 boulbeurte, met Andrew Cyster (70, 7x4 en 1x6) wat skitterend vertoon het met die kolf. Vir die Tiere het hul kaptein, Edwin Jacobs (2/25 in 6 boulbeurte), goed geboul. Hy is puik bygestaan deur sy span se goeie veldwerk op ’n moeilike buiteveld. Jarier Alexander (1/27 in 9bb), Charlton Daniels (1/20 in 6bb) en Lorenzo Jacobs (2/24 in 9bb) het ook goed geboul. Met Peoples aan die kolf het die tuisspan skaflik begin om die lopies te jaag, maar paaltjies op kritieke tye verloor. Slegs Imraan Nackerdien (50, 6x4) en Edwin Jacobs (28, 3x4) kon enige weerstand met die kolf bied. Vir Van der Stel het G van Zyl (4/21 in 9bb) skitterend geboul. Alhoewel die Tiere nie kon wen nie, was die afrigter en bestuurspan redelik tevrede met die wyse waarop die relatiewe jong span die sterk, ervare besoekers tot die uiterste beproef het. Peoples het slegs 19 lopies kortgekom (160 almal uit in 43,4bb). Hierdie naweek skop die seisoen in alle erns af met die 20/20-kompetisie. Peoples se eerste en tweede spanne speel tuis (Daljosafat) teen Vredenburg/Saldanha. Die tweede span begin om 10:30 en die eerste span om 14:30. Peoples III speel weg teen Northdene Krieketklub.
More
News
|