Kavaliers knaag nié aan houtlepel
2008-10-09
Jaco van Wyk
DIE Boland Kavaliers het Saterdag, in ’n skouspelagtige Curriebeker-wed- stryd wat altesaam dertien drieë ingesluit het, ses drieë van hul eie gedruk om te verseker dat hulle nie dié seisoen met die houtlepel hoef te eet nie. Die Wellingtonners se 40- 50 nederlaag teen die Vrystaat Cheetahs was hul laaste Curriebeker wedstryd van die seisoen. Hoewel die Wellingtonners nie die wedstryd gewen het nie, het hul kanniedood leier in die middelveld, Piet van Zyl, ’n ware kapteinsbeurt beleef om na afloop van die kragmeting as speler van die wedstryd aangewys te word. Van Zyl het die Vrystaters deurmekaar gehardloop en sodoende drie drieë gedruk om ’n puik wedstryd te onderstreep. Die oud-Boishaaier het sommer kort na die afskop van die wedstryd, in die derde minuut, sy span se rekening geopen met ’n puik drie in die hoekie. Ongelukkig was die Cheetahs op hul hoede en het hulle hierop gereageer met twee drieë van hul eie. Die Kavaliers het egter geweier om te gaan lê en na goeie spel kon die flank, Josh Strauss, oor die doellyn beur om die telling 14-14 te maak. Die Vrystaters het weer geantwoord met ’n vyfpunter, maar toe die geleentheid om ’n verdere voorsprong te geniet in die tuisspan se skoot val, kon die huidige kampioene nie voordeel daaruit trek nie. Met die Wellingtonners se losvoorspelers Dawid Hendricks en Angelo Brinkhuys wat koelkas toe gestuur is, kon die Cheetahs eenvoudig nie hul voorsprong rek nie. Dit is immers nie die eerste keer dat die Bolanders wys hoe om hul lyn breëbors te verdedig nie. Die rustydtelling was 14-21 in Vrystaat se guns. Die voormalige blits van die Kavaliers, Jongi Nokwe, het vroeg in die tweede helfte gewys waarom dit so belangrik is om spoed op die punte te hê toe hy die tweede helfte onderweg gekry het met ’n drie. Met die telling wat later, op 14-42, lelik begin lyk het vir die besoekers, het Van Zyl sake in sy eie hande geneem om sy tweede drie te druk. Vir Van Zyl was twee drieë egter nie genoeg nie. Na ’n puik breekslag deur sy sentermaat, Hein Myburgh, het laasgenoemde die bal perfek beskikbaar gestel om sy kaptein in die gaping te sit om sy derde drie in te palm. Asof die tuisspan teen die tyd nie hul besoekers genoeg toegelaat het nie, het die Cheetahs, sterk op die aanval, lelik verbrou toe die Kavaliers se Elgar Watts ’n bal in die 68ste minuut onderskep het, en amper die volle lengte van die veld gehardloop het om die telling 47-35 te maak. Met die Vrystaters wat in die laaste paar minute slegs ’n strafskop kon behaal, het die Kavaliers se Deon Scholtz een van die Kavaliers se ou truuks uitgehaal om ’n drie in die doodsnikke te gaan druk, en sodoende die gaping te laat krimp tot 40-50. Ander uitblinkers vir die Wynboere was die stutte, Janro van Niekerk en Jacobie Adriaanse, wat nie net in die skrums nie, maar ook in die vastelos, ’n barshou gespeel het. Die skrumskakel Marnus Hugo het weer goeie spel agter die oond gelewer.
More
News
|