Radiostasie
2008-10-16
SES jaar gelede het Radio KC uitstekend geklink, maar nou het die plaaslike radiostasie dringend ’n opknapping nodig. Tans word die gehoor en intellek van die luisteraar tot op die uiterste beproef. Om te begin by die aanbieders: die meeste van hulle tas rond, hul woordeskat is beperk en laat hulle in die steek. Hulle klink ook onvoorbereid, en kondig beswaarlik die gas se naam aan. Die oorgange is swak. Musiek maak nie van ’n tydskrifprogram ’n tydskrifprogram nie, tensy dit ’n musiektydskrifprogram is. Aanbieders se algehele kennis is teleurstellend, juis omdat hulle self nie wyd genoeg lees en nie op hoogte is van wat in hul dorp en in die wêreld gebeur nie. ’n Vroueprogram soos “Gee my die liefde” is absoluut te prekerig, emosioneel en opgesmuk. Van die nuuslesers struikel oor Engelse woorde en die sinne is te lank vir die luisteraar om te volg. Wat het geword van die opvoedkundige dokumentêre programme wat gefokus het op vroue- en kindermishandeling? Maak ons weer trots op die vallei se radiostasie wat besighede sal nader lok om te adverteer. Ernest Loth Esmeralda Meyer, stasiebestuurder van Radio KC, reageer as volg: Radio KC bedank mnr Loth hartlik vir sy opbouende kritiek. Radio KC is ’n gemeenskapsradiostasie en waardeer alle insette van die gemeenskap. Alles in ons vermoë word gedoen om ons aanbieders die nodige opleiding te gee. Indien daar enige persoon in die gemeenskap is wat oor die nodige vaardighede beskik om die stasie beter te laat klink, is hulle meer as welkom om deel van die span te word. Radio KC het ook ’n luisteraarsforum in plek, waar enige inwoner in ons uitsaaigebied insette kan kom lewer.
More
News
|