Ek verwys na die berig van 9 Oktober 2008 (“Council meeting halted”).
Op ’n vorige bladsy van dieselfde Paarl Post lees ek van ’n spesiale vergadering wat geskeduleer is.
Vir die een oomblik het ek gewonder of ek reg lees. Wat is die doel van ’n spesiale raadsvergadering as leiers en partye om die beurt die vergaderings boikot omdat hulle nie konsensus kan bereik nie?
Wie word bevoordeel of benadeel met sulke optredes? Watter van hierdie besluite was en is in die belang van ons gemeenskap? Word die gemeenskappe geken in die neem van die besluite?
Wanneer kom raadslede met die inligting na die mense om dit te toets? Kan ek u herinner: “The people will govern”.
Watter verligting gaan sulke boikotoptrede aan die kiesers bring wat werkloos en honger is en in bouvallige hokke woon wat hulle nie teen koue en hitte kan beskerm nie.
Onthou die saak waarvoor u in die raad dien is groter as persoonlike opinies en partyverskille.
Ons is besig om fokus te verloor. Dit moet gaan oor die mense wat gedien moet word. Mense moet in die toekoms goed nadink vir wie hulle moet stem.