Olyfkampioene aangewys
2008-10-16
’n EKSTRA suiwer olyfolie van die historiese Burgundy Bourgogne Hugenote- plaas buite Franschhoek is verlede week as Suid-Afrika se beste olyfolie aangewys tydens die derde SA Olyftoekennings. Die trofee vir die beste tafelolywe is toegeken aan die swart Mission olywe ingeskryf deur Karoo Olives van die plaas Renosterkop buite Beaufort-Wes – een van die vier oorspronklike olyfplase in Suid-Afrika. Reni Hildenbrand van Wellington is aangewys as vanjaar se Absa Presteerder van die Jaar vir haar uitsonderlike passie vir en bydrae tot die groei van die bedryf. Burgundy Bourgogne se wen-olie (Frantoio) het die beoordelaars oorweldig met sy vars, maar ryk en geronde aroma wat herinner aan vars slaaiblare en neute. Die beoordelaars was dit eens: ‘n uiters elegante olie. Olies het in drie kategorieë meegeding – delikaat, medium vrugtig en intens vrugtig. In die kategorie vir delikate ekstra suiwer olyfolie het Rio Largo (Frantoio) die enigste goue medalje verower, terwyl Tokara: The Olive Shed (Frantoio) van Stellenbosch, en Willow Creek van die Nuyvallei kort op hul hakke gevolg het met silwer medaljes. Burgundy Bourgogne, Foxenburg Landgoed en Olyfberg kan nou spog met “goue medalje-wenner” op die etikette van hul medium vrugtige olies, en Southern Right en Waterfall River (Organies) volg met silwermedaljes in hierdie kategorie. In die kategorie vir intens vrugtige olies het Olyven Houdt en Vesuvio (vroeë oes) goud verwerf vir hul inskrywings en Cascade Manor, Morgenster en Groote Vallei silwer. “As gevolg van die ongewone weerstoestande net voor en gedurende die oes, het die 2008 olyfolies veel sagter eienskappe as vorige jare, sonder die intense geure wat tydens droër seisoene dominant is,” sê Linda Costa, bedryfskundige en sameroeper van die Toekennings. “Die nat toestande het olyfolieprodusente egter uitgedaag om te verseker dat hul olies nie organoleptiese tekens van hierdie uitermatige humiditeit dra nie.” Buffet Olives (Queens) en Olivae Olive Estate het silwer verwerf vir hul inskrywings van groen olywe, terwyl Oryx Ridge, Tokara: The Olive Shed en Willow Creek silwer medaljes ontvang het vir hul swart olywe. Ter verduideliking van die paneel se keuse om Reni Hildenbrand as Presteerder van die Jaar aan te wys, sê John Scrimgeour, waarnemende voorsitter van die beoordelaarspaneel, “Reni is die volle verpersoonliking van hierdie toekenning.” Reni, ook bekend as die “olyfdame” en mede-outeur van Olives & Oils of South Africa, het die eerste Wellington Wyn- en Olyffees op die been gebring en is in November 2000 as die besigheidsvrou van die maand in Wellington aangewys. In 2001 het sy ook die Vroueboer van die Jaar-kompetisie gewen. Sy is gastehuiseienaar, produsent en verwerker van olywe en wyn.
More
News
|