Dubbelgoues vir plaaslike wyne
2008-10-16
SATERDAGAAND was daar groot vreugde onder vyf kelders in die Paarl-streek toe hulle met die gesogte Veritas dubbelgoudtoekennings by die jaarlikse spoggeleentheid in Kaapstad, bekroon is. Nederburg, KWV, Windmeul Kelder, La Motte en La Petite Ferme het elk ’n dubbelgoud Veritas-toekenning ontvang. Nederburg het een dubbelgoud (Private Bin R163 Cabernet Sauvignon 2005) en vier goue medaljes ingeoes. KWV het dubbelgoud vir The Mentors Shiraz 2006 en drie goues ingeoes. Windmeul se Pinotage Reserve 2007, La Petite Ferme se Merlot 2006 en La Motte se Pierneef Collection Shiraz/Viognier 2006 het ook almal dubbelgoud verower. ’n Uitgesoekte groep van ses internasionale wynkundiges van so ver as die Verenigde Koninkryk, Kanada, Swede, Duitsland, Australië en Nederland en meer as honderd plaaslike wynbeoordelaars het vanjaar se 1 753 inskrywings vir Veritas, Suid-Afrika se oudste, grootste en bekendste kompetisie vir wyne wat tans in die handel beskikbaar is, beoordeel. Wynliefhebbers in Kaapstad sal Woensdagaand die geleentheid kry om vanjaar se dubbelgoud en goue medalje wenwyne te geniet. Die proe word by die Cape Sun gehou. ’n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar. Die toegangsfooi sluit ’n proeglas, ligte verversings, kase wat Qualité gehalte-toekennings ontvang het en ’n sakboekie met die volledige Veritas uitslae in. Bespreek vooraf by Computicket of by www.computicket.com. Besoek www.veritas.co.za vir meer inligting en die volledige uitslae van al die kelders.
More
News
|