Onmin oor kat se dood
2008-10-16
Lise Beyers
’n KLAG van dieremishandeling is teen ’n man gelê, nadat ’n kat die afgelope naweek koelbloedig doodgeskiet is by ’n huis in Groenheuwel, Paarl-Oos. Monica Snyman is Sondagaand by haar huis in Debussy- straat uit die bed geruk, toe haar buurman haar wakker geklop het. Hy het gesê dat hy moeg is vir die lawaai van katte en hy gaan nou iets daaromtrent doen. Hy is daar weg en die volgende oomblik het ’n skoot geklap. “Ek het my deur oopgemaak en na my katte geroep. Net een, Vos, het nader gehardloop, maar daar was geen teken van die ander mannetjie, Gesiggie, nie. “Albei my katte is reggemaak, en ek sorg baie goed vir hulle. Hulle loop nie rond nie en is baie geheg aan my. “Alhoewel ek op daardie stadium nie geweet het dat dit wel my kat is wat doodgeskiet is nie, het ek dit in my siel gevoel.” Snyman het Maandagoggend ’n klag van dieremishandeling en afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied ingedien by die Paarl-Oos polisiestasie teen haar buurman, John Botha. ’n Plaaslike veearts, dr Emile du Plessis, wat die nadoodse ondersoek op die kat uitgevoer het, het gesê dat daar geen verskoning is om ’n onskuldige troeteldier dood te maak nie. Diere-eienaars moet egter daarop let dat hulle slegs twee katte en twee honde per erf mag aanhou. Die erf moet ordentlik omhein word om te verseker dat hulle binne bly. Troeteldiere moet ook geïdentifiseer word deur middel van óf halsbandjies óf mikroskyfies. Hulle moet reggemaak word, en dit alleen kan verhoed dat hulle rondloop. Maar katte is ’n dier van ’n ander kleur en ken geen grense nie. ’n Interessante raat om katte weg te hou, is die verspreiding van leeumis in die tuin. Katte skrik hulle glo oor ’n mik vir dié teken van ’n baie groter “kat” in die omgewing. André van Huysteen van Courtrai het reeds hierdie afskrikmiddel probeer en leeumis bekom by die Drakenstein Leeupark. “Dit lyk beslis asof rondloperkatte nou minder in my tuin voorkom, maar honde word weer deur die mis gelok.” ’n Ander afskrikmiddel is sitronella-olie. Katte hou nie van hierdie reuk nie, en dit kan op probleemareas gesprinkel word. En ten laaste, as die kat heeltemal versuim om uit jou erf te bly, kan ’n waterpistool volgemaak word met ’n mengsel van water en ’n bietjie sitronella-olie. Die jagter sal dan geduldig sy prooi moet inwag, en hopelik as die kat hierna deurdrenk is met water en sitronella-olie, sal hy nie weer hiér sy streke uithaal nie. Dit is heel skadeloos, en die sopnat kat sal waarskynlik nie weer by jou tuin inloer nie. So kan mens en kat hopelik in vrede saam leef, sonder dat skote moet klap. * A Paarlite has laid a charge against her neighbour after her cat was shot and killed.
More
News
|