Tiener-moles
2008-10-16
Lise Beyers
’n VYFTIENJARIGE seun is in die hospitaal nadat die voertuig wat hy bestuur het, bo-op die trappe van die WP Bloeddiens se gebou in die Paarlse Hoofstraat beland het. Die voorval het Vrydagnag kort ná middernag plaasgevind. Volgens ooggetuies het die Toyota Conquest teen ’n vinnige spoed suidwaarts in Hoofstraat gery. Die bestuurder van die voertuig het vermoedelik beheer oor die motor verloor, waarop dit getol het, en met sy agterkant bo-op die Bloedbank se trappe beland het. Twee van die insittendes het na bewering die pad gevat ná die ongeluk, en die vyftienjarige is agtergelaat om vir homself te sorg. Die polisie en nooddiens was vinnig op die toneel, en die seun is vir nek- en rugbeserings behandel. Hy is na die Paarl Hospitaal geneem, maar is later oorgeplaas na Tygerberg Hospitaal se spinale eenheid. Die motor wat in die ongeluk betrokke was, behoort na bewering aan ’n familielid van die seun. Dit is steeds onduidelik of hy toestemming gehad het om die voertuig te gebruik of nie. ’n Woordvoerder van die Bloedbank, Shirene Dollie, het gesê dat hulle byna klaar was met opknappingswerk van dié historiese gebou, toe die trapreling in puin gelê is. “Ons eerste bekommernis was om die gebied vir die publiek te beveilig en dan die rommel te verwyder. “Ons is besig om kwotasies van bouers te kry om die reling so spoedig moontlik te herbou.” Die polisie ondersoek ’n saak van roekelose, nalatige bestuur. In nog ’n ongeluk oor die naweek, is ’n Paarl polisiespeurder ernstig beseer, toe die wiel van sy diensmotor gebars het. Die ongeluk het in Hoofstraat- Suid by Courtrai plaasgevind. Die motor het die middelmannetjie getref, voordat dit teen ’n boom gebots het. Konstabel Mark Mahoney het rugbeserings opgedoen. ’n Woordvoerder van die nooddienste het gesê dat hulle die afgelope naweek baie meer padongelukke gehad het as tydens die wintermaande. “Dit lyk asof die weer ’n rol hierin speel, want noudat die somer behoorlik op pad is, is baie meer mense op straat. In baie van hierdie gevalle speel spoed en drank ook ’n groot rol.” * A fifteen-year-old boy was behind the steering wheel of a vehicle that smashed into the stairway of the WP Blood Transfusion Service in Paarl on Friday night.
More
News
|